Die Pniël Villagers-rugbyklub is een van twee plaaslike klubrugbyspanne wat die op Saterdag 20 Junie aan die wenkant in hul liga-kragmetings was.
Die span van die Dwarsriviervallei het in die Helderberg vir Sir Lowrians met 18-23 geklop om sy plek in die topvier van Superliga C te verstewig.
Die spanne het mekaar op die Sir Lowry’s Pass-sportterrein die stryd aangesê en die besoekers het geweet dat hulle dié wedstryd moet wen om in die ligastryd te bly, veral nadat hulle die vorige naweek (Saterdag 13 Junie) teen Gardens met 51-40 vasgeval het.

SLC-voorste spanne
Die sege het beteken dat die Pniëllers met 33 punte die vierde plek op die punteleer behou – dieselfde puntetelling soos Kylemore (derde), maar die span van Pniël het reeds nege wedstryde gespeel teenoor sy buurspan se agt wedstryde.
Die oorwinning was veral vir Villagers belangrik omdat hulle die komende naweek ‘n loslootjie geniet en nie te ver agter die ander drie voorste spanne in die liga sal wil wees nie.
Die twee top-spanne in Superliga C ná die naweek se wedstryde is Rangers (eerste met 40 punte) en Watsonia Warriors (tweede met 38 punte). Albei dié spanne het nege wedstryde gespeel.
Die ander plaaslike span wat die naweek ‘n sege aangeteken het, is Faure, wat in sy Noordelike liga-derbystryd teen Blakes behoorlik die skape deurmekaar gekrap het. Die spanne het op die Macassar-sportterrein kragte gemeet, met Faure wat teen die eindfluitjie met 48-17 op die telbord voorgeloop het.
Spanne trek swaar
Vir Faure het die oorwinning hom nog ‘n tree nader aan Blakes op die punteleer gebring. Ná 10 wedstryde beklee die wenspan die vyfde plek met 34 punte en Blakes, een van die liga se voorlopers aan die begin van die seisoen, is in die vierde plek met 36 punte.
In ander Noordelike liga wedstryde op die dag het die spanne van Stellenbosch maar swaargetrek. Excelsior moes stert tussen die bene huis toe kom ná sy 85-3 nederlaag teen Morning Star United; daardie eerste sege van die seisoen ontwyk steeds vir Cloetesville wat met 41-26 die knie teen Gordonsbaai Pioneers moes buig; en Fisantekraal was net té sterk vir Stellenbosch-Coronations (35-23).
In die enigste Superliga A-wedstryd vir ‘n plaaslike span, kon Franschhoek nie sy tuisvoordeel teen die studente van UWK tot sy voordeel gebruik nie. Die liga-nuweling van die vallei, wat deur die voormalige Springbokbreier Peter de Villiers afgerig word, het met ‘n noue marge (29-33) die stryd gewonne gegee.

Wedstrydbepalings
Om hul seisoen terug op koers te bring en hul doel om in die topliga van WP te bly te bereik, sal vir hulle nie maklik wees nie, veral met hul volgende wedstryd teen ‘n sterk Helderberg, wat die vierde plek op die punteleer beklee, in die Charles Morkel-stadion in Strand die komende naweek (Saterdag 27 Junie).
Maar die Franschhoekers het oor die jare heen bewys dat hulle nie so maklik tou opgooi nie, en hulle het met hul historiese sege oor die US Maties tot dusver vir die grootste opskudding van die jaar gesorg.
Van der Stel-Evergreens is geskeduleer om teen SK Walmers in Groenpunt uit te draf, maar of die wedstryd wel voortgaan is onbekend. Die Maties is tot 29 Julie nie in aksie nie.
In Superliga C is Kylemore weer ná twee loslootjies terug op die veld wanneer hy vir Sir Lowrians ontvang. Raithby Universals maak ook ná ‘n afnaweek weer hul verskyning; dié keer reis die plaaslike span om Delft United te ontmoet.
Met die eerste helfte van die Noordelike liga nou klaar, geniet alle spanne in dié liga vandeesweek ‘n blaaskans voor die inspannende tweede helfte.





You must be logged in to post a comment.