‘n Ma van agt, ouma van 40 en oumagrootjie van meer 30 is die titel was Martina Smith trots dra.
Smith het onlangs haar 80ste verjaarsdag gevier. Só baie familielede het die Jamestowner dat haar geliefdes haar in groepe moes besoek en sy is verskeie kere uitgeneem vir die vieringe.
Oorspronklik van Robertson het Smith in 1957 na Stellenbosch verhuis nadat een van haar susters en dié se man na ‘n plaas buite die dorp getrek het.
Later was Smith se hele gesin op Stellenbosch-plase en hier het sy meeste van haar jare as plaaswerker deurgebring.
“My swaer het hier kom werk soek. Hy en my suster het in Idavallei gewoon. Ek was 12 jaar oud toe ek en een van my broers ook gekom het.
“Later het my ma-hulle ook getrek en op die ou einde was ons almal toe hier,” vertel Smith.
Sy het onder meer op Dwars-in-Die-Weg-plaas, Eikendal en Bilton-plaas gewoon en oor die jare het sy alles gedoen – van tabak oes, versnippering en rol, tot in die fabrieke by Gants in Strand gewerk.
Bewaar en beskerm
Tog is dit Smith se rol as vroed-vrou waarvoor baie in Stellenbosch se plaasgemeenskap haar onthou.
“My ouma kan net kyk na ‘n baba of ‘n kind en weet daar is fout. Jy hoef niks te sê of te doen nie… sy weet net,” vertel haar kleindogter Jospehine Hendricks.
Smith onthou steeds die eerste babatjie wat sy gevang het.
“Vandag kan ek net lag wanneer ek dink aan alles waardeur die Here my gedra het. Hy het my bewaar en beskerm. Met die eerste bevalling was dit my broer se vrou.
“Dit was Sondag, baie van die mense was dronk en daar was niemand anders om te help nie. Toe sê my ma ek moet help. Sy het verduidelik ek moenie haastig wees nie, sit en dink voor ek enigiets doen…
“Nadat die kindjie gebore is, het ek die gesiggie met ‘n skoon lappie afgevee en die naelstring geknip – so lank soos my wysvinger – en alles het goed verloop. Dit was die eerste keer en die volgende keer toe daar ‘n baba op pad is, het die plaasmense my weer laat kom,” onthou Smith.
Moederhen
Haar liefde vir kinders het oor die dekades net gegroei. Vandag, ten spyte van haar liggaam wat haar soms faal, pas die oumagrootjie steeds verskeie van haar agterkleinkinders op.
“Ek het hulle almal grootgemaak. Hulle en hul ma’s en pa’s,” sê Smith skertsend.
Benewens matriarg wees het Smith ook heelwat werk met Women on Farms gedoen. Dié organisasie fokus op hulp vir vroulike plaaswerkers.
Dit was deur haar werk met Women on Farms dat Smith internasionaal gereis het en Jamie Jacobs (22) onthou trots toe sy haar ouma op die televisie-nuus gesien het vanweë haar werk met Woman on Farms.
Tog is dit haar familie waarop Smith die trotste is, insluitend die familie se jongste stel tweelinge, die maand oue Tylem en Thiané.





