Daar heers groot opwinding in die Dwarsrivier die week, met die opkomende Superliga C-derbystryd tussen Kylemore en Pniël Villagers wat op Saterdag 1 Augustus gespeel word.
Die spanne is in ‘n stryd om die derde plek op die punteleer, met Villagers wat tans dié plek op 53 punte ná 13 wedstryde beklee. Kylemore is kort op sy buurspan se hake in die vierde plek op 49 punte ná 12 wedstryde.
Daarom is die naweek se wedstryd op die Kylemore-sportterrein een wat grotendeels die twee klubs se lot vir die seisoen sal bepaal, veral met Kylemore wat slegs drie wedstryde oor het en Villagers wat Saterdag vir sy voorlaaste wedstryd uitdraf.
LEES OOK: Pniël Villagers mount challenge for top-three finish in Super League C

Oorwinnings behaal
Maar soos met enige derbystryd is daar baie meer as net ligapunte op die spel – die spanne speel ook vir hul dorpies se trots en die spogregte vir die seisoen.
Daarom het Kylemore in ‘n verklaring op sy Facebookblad gesê hy glo die wedstryd sal in goeie sportmanskap gespeel word en het ‘n beroep op sy spelers, amptenare, ondersteuners en die publiek gedoen om “hulle ten alle tye verantwoordelik te gedra, beide by die wedstryd en op alle sosialemedia-platforms”.
Albei spanne het op Saterdag 25 Julie oorwinnings in hul onderskeie ligakragmetings behaal en sal hoop om op daardie wenmomentum kan voortbou. In Pniël het Villagers met 45-12 vir Caledonian Roses behoorlik ore aangesit, terwyl Kylemore op tuisbodem met 43-10 met Strand United afgereken het.
In nog ‘n Superliga C-wedstryd het Raithby Universals op sy tuisveld 19-21 teen Strand-rugbyklub vasgeval. RU sal hoop om sy lot in sy volgende weg-wedstryd teen Sir Lowrians te verander.
In Superliga A was twee plaaslike spanne oor die naweek aan die verloorkant, met Villager wat Franschhoek geklop het (71-29) en Van der Stel-Evergreens wat geen antwoorde vir die aanval van Primrose (148-0) gehad het nie.
Die Maties-studente het gisteraand (Woensdag 29 Julie) ná ses weke af weer vir ‘n ligawedstryd teen Helderberg in Strand opgedraf. Die uitslag van die wedstryd was teen druktyd nie bekend nie.
Wenreeks voortgesit
Die naweek is Franschhoek weer in aksie wanneer hy Brackenfell in die vallei verwelkom en VDE het reeds voor die tyd sy wedstryd teen Durbell verbeur.
In die Noordelike liga het die span van Klapmuts, Blue Stars United, die afgelope naweek sy wenreeks voortgesit met ‘n 17-34-sege oor Faure.
Blakes was ook aan die wenkant in sy wedstryd teen Police Blackheath (8-48) en Corries kon nie die aanslag van Whistling Wheels stuit nie (43-10).
Excelsior het sy wedstryd teen Gordonsbaai Pioneers verbeur (28-0).
Die komende naweek speel Blue Stars teen Gordonsbaai Pioneers, Cloetesville en Blakes is in ‘n derbystryd betrokke, Excelsior kom teen Whistling Wheels te staan, Stellenbosch-Coronations verwelkom Police Blackheath en Faure is in aksie teen Morning Star United.
LEES OOK: Plaaslike rugbyspanne woeker vir plek en promosie in WP-ligas






You must be logged in to post a comment.