Alenor Pietersen voor haar woning en eetplek in Pniël, waar sy besoekers van naby en ver met haar smullekker kontreikos bederf. Foto: Yaël Malgas

Kookboek van bobaas Pniël-kok vier ware kontreikos

Alenor Pietersen voor haar woning en eetplek in Pniël, waar sy besoekers van naby en ver met haar smullekker kontreikos bederf. Foto: Yaël Malgas

Pniëllers en besoekers van oor die wêreld heen is bekend met Alenor Pietersen se smaaklike tuisgebak en nou deel sy haar smullekker-resepte in ‘n splinternuwe kookboek.

Alenor’s Kookboek is op Vrydag 28 Augustus in die laaste dae van Vrouemaand bekendgestel by Alenor se restaurant en woning.

Die skep van die kookboek was nie sonder struikelblokke nie en die eerste weergawe van die boek is twee jaar gelede laat vaar nadat dié projek platgeval het. Daarna het Alenor vir nog twee jaar met ‘n nuwe span gewerk om ‘n nuwe kookboek te skep.

LEES OOK: Tee vir Tuindag

Alenor Pietersen en René Momberg
Alenor Pietersen (links) saam met René Momberg van Stellenbosch Township & Village tydens die bekendstelling van Alenor se resepboek. Foto: Yaël Malgas

Ondersteuning byderhand

“Elke keer wanneer ons Alenor besoek, het sy iets verander, uitgebrei en haar onderneming laat groei. Dit is net wie sy is en dit is gepas dat ons hierdie formidabele vrou en haar kookboek in Vrouemaand vier,” meen René Momberg, bestuurder van Stellenbosch Township & Village.

Alenor se onderneming is deel van Stellenbosch Township & Village, ‘n organisasie wat plaaslike entrepreneurs help om hul bestaande toerisme-onderneming uit te brei en volhoubaar te maak. In Alenor se geval het hulle ook hulp om vennote, soos die Greater Stellenbosch Development Trust, gevind wat die Pniëller se kookboek ‘n werklikheid help maak het.

Vir Alenor voel die kookboek steeds onwerklik.

Sy vertel met die eerste boek het sy met ‘n uitgewer in Johannesburg gewerk en sy het slapelose aande gehad, waar sy gewonder het waar in die land is haar boek.

Alenor Pietersen
Alenor Pietersen vertel gaste meer oor haar komvandaan en hoe dit resepte in haar kookboek help skep het. Foto: Yaël Malgas

Ouma Tella se invloed

Die kool was uiteindelik nie die sous werd nie, maar Alenor se tweede probeerslag het beter gegaan. “Ek voel so trots op myself dat ek die boek kon voltooi. En indien daar ‘n resep is wat nie reg is nie, moet jy net jou verstand gebruik en bietjie meer water of sout bysit waar dit nodig is,” verduidelik sy.

Ten spyte daarvan dat Alenor “nie baie geleerdheid het nie” het sy haar eie resep vir kerrievis, hoenderlewertjies en haar wenresep vir lepelbrood neergepen.

Nes vele ander bobaaskokke het Alenor by haar ouma, Matilda “Tella” Meyer, leer kos maak. Dit was ook Ouma Tella wat vir Alenor geleer het hoe om brood sonder kniewerk te maak.

“Om te dink dit is deur my lepelbrood dat ek hierdie mylpaal bereik het,” skerts Alenor. “Ek het nie geweet ek sal eendag só ver kom nie. Ek pluk die vrugte en ek salueer my ouma wat my leer kosmaak het. Vandag kan ek mense bemoedig om aan te hou.”

Gaste by die bekendstelling het kans gehad om van Alenor se kontreikos te proe en natuurlik was dit veral die lepelbrood wat ‘n wenner was. Benewens die kontreikos-ervaring wat gaste kan geniet bied Alenor deesdae ook ‘n noenmaal- (high tea) ervaring.

  • Vir meer oor Alenor se aanbod en om die boek in die hande te kry, skakel 083 289 0818.

LEES OOK: Responsible tourism: Global recognition for Stellenbosch’s Township & Village

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article