Elize Faroa dood gevind in die Dwarsrivier Pniël, 27 April 2026.
Elize se lyk is op Vryheidsdag,, Maandagoggend in die Dwarsrivier- Pniel gevind. Foto: Mauricia Petersen

Vrou se lyk in Dwarsrivier laat baie vrae

Elize Faroa dood gevind in die Dwarsrivier Pniël, 27 April 2026.
Elize se lyk is op Vryheidsdag,, Maandagoggend in die Dwarsrivier- Pniel gevind. Foto: Mauricia Petersen

‘n Skokgolf het verlede week die Dwarsriviervallei getref toe die lyk ‘n 41-jarige vrou in die Dwarsrivier, Pniël, gevind is.

Elize Faroa van Lanquedoc wat vir langer as 15 jaar by Waterford Winery gewerk het, is op Saterdag 25 April laas deur haar familie gesien.

Volgens die familie is Elize laat Saterdagmiddag laas gesien nadat sy, soos gewoonlik, die dorp besoek en inkopies gedoen het. Sy het haar geliefdes – insluitend haar ma, Elizabeth Faroa (62), haar tannies en dogter, Antelucia Cedras – daarna by die huis gelos toe sy na haar gewone kuierplek, naby die huis, gegaan het.

Elize Faroa dood gevind in die Dwarsrivier Pniël, 27 April 2026.
Elize Faroa se dood laat reeds groot leemtes in die familie. Foto: verskaf

Die Sondagaand (26 April) het sy deur haar dogtertjie ‘n boodskap gestuur dat sy nie huis toe kom nie en eers verlede Maandag (27 April) terug sou wees. Dit was die laaste teken van lewe wat die familie van haar ontvang het.

Op die Maandagoggend het bekommerde familielede begin soek nadat sy nie opgedaag het nie.

‘n Familielid, gestuur om te gaan kyk, het nadat die soektog geen vrug gedra het nie ‘n foto van Elize op ‘n plaaslike WhatsApp-groep geplaas. Daardie aand het die polisie die familie in kennis gestel dat sy oorlede is en haar liggaam gevind is.

Raaiselagtige omstandighede

Die omstandighede rondom haar dood is vir die familie diep verontrustend. Verskeie vrae bly onbeantwoord. Elize se tekkies was nie aan haar toe haar familie haar by die lykshuis gesien het nie. Haar baadjie was ook weg – klere wat sy nog aangehad het toe die familie haar op die Saterdag gesien het. Die plek waar haar lyk gevind is, is volgens die familie totaal onbekend vir Elize.

“Sy het nie eers geweet van ‘n piekniekbos (by die rivier in Pniël) nie,” het haar niggie Marisha Afrika (35) gesê. “Sy het nie eers geld in Pniël gaan trek nie. Sy ken nie eers daardie pad nie.”

Die familie soek dringend antwoorde. “Almal vra. Almal weet vir ‘n feit sy het nooit daai pad geloop nie. Wat soek sy daar? Waar is die baadjie? Waar is die skoene?” wou Afrika weet.

Elize Faroa dood gevind in die Dwarsrivier Pniël, 27 April 2026.
Elize se lyk in die Pniel-rivier is baie vreemd vir haar familie. FOTO: verksaf

“Sy was ‘n mense-mens”

Elize laat haar dogtertjie en ma agter. Haar familie en vriende beskryf haar as ‘n warm en liefdevolle mens wat altyd vir ander omgegee het.

“Sy was ‘n mense-mens – altyd aan die glimlag,” het Afrika gesê. “Die mense skrik as hulle nou hoor van haar afsterwe. Sy was nie ‘n mens wat rondbeweeg het nie – net na haar tannie en werk toe.”

Afrika, wat onlangs siek was, het haar dankbaarheid vir Elize se onbaatsugtige sorg uitgespreek.

“Toe ek siek was, het sy ingekom en my kinders gewas, my skottelgoed skoongemaak. As sy sien ek is nie lekker nie, vat sy my kind weg sodat ek kan rus. Sy het altyd gevra: ‘Wat kan ek vir jou doen?’ ”

Haar bure en familielede onthou haar met ‘n glimlag. “As sy ‘n doppie gedrink het, het sy altyd aangegaan met ons – dan sê ons die pop se battery is pap, want dan praat sy in daai slow motion,” het Afrika met ‘n traan geskerts.

Sy het haar kind en die familie se kinders bo alles liefgehad en gereeld peuselhappies en koekies gebring. “Sy het altyd ‘n hart vir ons kinders gehad – sy sal altyd vir hulle twee rand gee of vir hulle iets koop.”

Elize het vir langer as ‘n dekade by Waterford Winery gewerk en ‘n uitstekende verhouding met haar kollegas gehad. “Hulle kon nie glo toe hulle die boodskap kry nie – is dit regtig sy?” het Afrika vertel.

Kollegas wat jare lank saam met haar gewerk het, is verslae oor haar skielike dood.

Familie se oproep

Die familie het ‘n dringende beroep op die gemeenskap gedoen vir enige inligting wat kan help om lig te werp op haar laaste bewegings en die omstandighede rondom haar dood.

“Niemand kom vorendag met inligting oor die klere wat sy aangehad het nie. Die mense met wie sy laas was, sê net: ‘Sy het geloop.’ Ons weet nie wat gebeur het nie,” het ‘n gebroke Afrika gesê.

Kapt. FC Van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder. het die voorval bevestig. “ ’n Geregtelike doodsondersoek is by Groot Drakenstein-polisiekantoor geregistreer na aanleiding van die ontdekking van die lyk van ‘n 41-jarige vrou in ‘n rivier in Pniël, Lanquedoc, op Maandag 27 April om 10:40,” het hy verduidelik.

Die polisie het intussen ook bevestig dat ‘n nadoodse ondersoek gedoen is.

Elize Faroa dood gevind in die Dwarsrivier Pniël, 27 April 2026.
Elizabeth Faroa (ma) en Antelucia Cedras, Elize se dogterjie. FOTO: Mauricia Petersen

Volgens die familie bevestig die nadoodse ondersoek dat die oorsaak van dood verdrinking was. Hulle meen dit is baie vreemd, want dit het daardie naweek swaar gereën en dit was ‘n eienaardige plek vir Elize om te wees.

‘n Troosdiens vir die gemeenskap is verlede Vrydag (1 Mei) by die St. Giles Klipkerk in Lanquedoc gehou en ‘n kruis is ter nage- dagtenis van Elize by die rivier geplant. Sy sal vandeesweek ter ruste gelê word.

*Hierdie berig is op Donderdag 7 Mei 2026 opdateer met addsisionele kommentaar van die gesin, sowel as die polisie. – Red.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article