Damvlakke in die Wes-Kaap het gestyg en in die Eikestad verseker die Stellenbosch-munisipaliteit inwoners dat die watergehalte hier veilig vir verbruik is.
Die departement van water en sanitasie (DWS) het op Dinsdag 22 September in ‘n verklaring gesê damvlakke het in ‘n positiewe rigting beweeg, met die provinsie se ses opgaardamme wat gesamentlik 76,14% vol is.
Volgens die jongste data van die Kaapstad-watertoevoerstelsel het die damvlakke sedert verlede week met 1,42% gestyg.
LEES OOK: Dam levels in Western Cape stable but extra care is needed

Damvlakke gemonitor
Ten spyte van die toename maan Ntombizanele Bila-Mupariwa, provinsiale hoof van die departement, moet water steeds verantwoordelik gebruik word en watervermorsing vermy word.
“Hoewel die huidige toename in opgaardamvlakke bemoedigend is, behoort dit nie tot gemaklikheid lei nie. Verantwoordelike watergebruik bly noodsaaklik om ons waterhulpbronne te beskerm en langtermyn-watersekuriteit vir die Wes-Kaap te verseker. Elke inwoner, onderneming en industrie het ‘n rol om te speel,” sê sy.
Die grootste dam in die Kaapstad-watertoevoerstelsel, die Theewaterskloofdam, is tans 76,49% vol. Bila-Mupariwa sê damvlakke word voordurend gemonitor sodat proaktiewe maatreëls geneem kan word.
Met die El Niño-toestande wat teen die einde van die jaar verwag word, word hoër temperature, meer verdamping en bykomende druk op ons waterhulpbronne verwag.
“Waterbewaring moet ‘n daaglikse gewoonte word. Die water wat ons vandag spaar, sal ons help om veerkrag te bou en ons voorrade vir die maande wat voorlê te beskerm,” sê Bila-Mupariwa.
Kleur en skakering verander
Intussen sê die Stellenbosch-munisipaliteit water in die munisipale gebied is veilig vir verbruik, ten spyte van vele inwoners se klagte oor die kleur en geur van die kraanwater.
Volgens die munisipaliteit voldoen die plaaslike watergehalte aan die Suid-Afrikaanse nasionale SANS 241-standaarde.
“Die munisipaliteit voer roetine-monitering van watergehalte uit, insluitend omvattende laboratoriumtoetse, om te verseker dat ons drinkwater veilig bly en aan die vereiste standaarde voldoen.
“As ‘n bykomende veiligheidsmaatreël word watermonsters ook onafhanklik deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsings-raad (WNNR)-laboratoriums vir bakteriologiese en mikroskopiese parameters getoets. Die resultate wat ontvang is, is positief en geen rede tot kommer is geïdentifiseer nie,” lui ‘n verklaring wat verlede week deur die munisipaliteit uitgereik is.
Die munisipaliteit erken die kleur en skakering van water mag dalk opval en skryf dit toe aan ‘n seisoenale verskynsel, veral tydens en ná reënvalperiodes.
“Die kleur word veroorsaak deur natuurlike tanniene wat uit plantmateriaal – ver- al fynbos – vrygestel word en ná reënval in waterbronne kan beland. Alhoewel die waterbehandelingsproses hierdie tanniene verwyder, kan ‘n effense oorblywende kleur soms steeds voorkom. Die teenwoordigheid van hierdie natuurlike kleur beïnvloed nie die veiligheid van die water nie.”
LEES OOK: Stellenbosch kyk na waterbeperkings




You must be logged in to post a comment.