Boniface Kumwenda
Boniface Kumwenda (49), ‘n Malawiese man het Donderdagmiddag (17 September) ‘n operasie ondergaan nadat hy in Klapmuts beroof en aangeval is. Foto: Verskaf

Malawiër in hospitaal glo ná aanval deur Klapmuts-seuns

Boniface Kumwenda
Boniface Kumwenda (49), ‘n Malawiese man het Donderdagmiddag (17 September) ‘n operasie ondergaan nadat hy in Klapmuts beroof en aangeval is. Foto: Verskaf

‘n Malawiese man sterk tans in ‘n hospitaal in Stellenbosch aan nadat hy op Dinsdag 15 September na bewering deur twee seuns in Klapmuts aangeval is.

Boniface Kumwenda (49) was volgens sy vriendin, Neliswa Ntwanami (43), omstreeks 18:00 op pad na haar huis toe twee seuns hom na bewering probeer beroof het.

Volgens Ntwanambi het Kumwenda daarna na haar huis gehardloop. Sy sê hy is in die bors gesteek en met ‘n panga op sy hande en arms gekap.

Kumwenda was Donderdag 17 September steeds in die hospitaal en het volgens Ntwanambi ‘n operasie ondergaan.

Sy sê die voorval het haar bang en onveilig laat voel. Sy beweer een van die seuns wat by die aanval betrokke was, het die volgende dag in haar straat rondgeloop.

Volgens haar is dit nie die eerste keer dat Kumwenda aangeval is nie. Sy sê hy het in ‘n vorige voorval verby ‘n winkel geloop toe twee seuns, wat daar gesit het, hom aangeval het. Sy sê haar kêrel is in dié voorval ook met ‘n panga aangeval en met ‘n mes gesteek.

Luidens gerugte is die een seun na bewering “ ’n gereelde misdadiger wat elke keer onder die toesig van sy ma vrygelaat word”.

Mense beweer hy beroof mense gereeld en maak hulle seer. Inwoners beskryf hom as “ ’n onbeskofte kind” en beklemtoon dat hy gevaarlik is.

Veronica Gelant, die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Klapmuts, het verlede Donderdag aan Eikestadnuus gesê die voorval het ‘n groot opskudding in Klapmuts veroorsaak toe lede van die gemeenskap probeer het om die seun in boendoe-hof-styl te takel.

Die seun is na veiligheid gebring voordat die gemeenskap hom kon aanval en word by die Klapmuts-polisiekantoor aangehou.

Gelant het intussen haar kommer oor misdaad in Klapmuts uitgespreek. Volgens haar kom misdaad die afgelope weke toenemend in Klapmuts voor – veral in gebiede soos Kompad.

Sy sê inwoners voel onveilig in hul eie huise en dus moet die oplossing tot hierdie misdade verder as net “gewone” straf.

Gelant doen ‘n beroep op die polisie vir ‘n langtermynplan vir jongmense wat rehabilitasie, vaardigheidsontwikkeling en werksgeleenthede insluit.

Sy sê die polisie, ander wetstoepassers en die gemeenskap moet saamkom om misdaad in Klapmuts aan te spreek.

Eikestadnuus het na die polisie uitgereik, maar geen kommentaar teen die tyd van publikasie ontvang nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article