Lorraine du Toit, ‘n Stellenbosser en onderwyser by Dorothea Spesiale Skool, is verlede Woensdag (24 Junie) as die wenner in Uitnemendheid in Klaskamerpraktyk vir LSOB-skole aangewys.

Dorothea Spesiale Skool-juffrou wen nasionale toekenning

Lorraine du Toit, ‘n Stellenbosser en onderwyser by Dorothea Spesiale Skool, is verlede Woensdag (24 Junie) as die wenner in Uitnemendheid in Klaskamerpraktyk vir LSOB-skole aangewys.

Lorraine du Toit, ‘n onderwyser by die Dorothea Spesiale Skool in Cloetesville, het op Woensdag 24 Junie tydens die driejarige kongres van die SAOU die nasionale toekenning vir uitnemendheid in klaskamerpraktyk vir LSOB-skole ontvang.

Dié Stellenbosser is sedert 2022 deel van die plaaslike skool, waar sy haar passie en roeping uitleef deur met leerders met spesiale behoeftes te werk.

“Ek streef daarna om ‘n positiewe verskil in die daaglikse lewe van kinders te maak. Ek luister nie net na wat kinders sê nie, maar ook na dit wat hulle nie kan sê nie. Ek bou sterk verhou­dings met ouers en versorgers en waardeer die bydraes van kollegas en terapeute,” vertel Du Toit.

“As opvoeder glo ek dat elke leerder kan leer en kan groei – net nie altyd op dieselfde manier of teen dieselfde tempo nie. Leerders met spesiale behoeftes vra nie vir minder nie … hulle vra net vir anders.”

LEES OOK: Dorothea school embraces e-learning

Lorraine du Toit Dorothea Spesiale Skool
Lorraine du Toit, ‘n onderwyser by die Dorothea Spesiale Skool in Cloetesville, met die pryse wat sy gewen het.

Passie en roeping

Du Toit, wat met 25 jaar ervaring in die onderwys spog, het vroeg reeds ­besluit­ om die onderwys as loopbaan te betree.

Sy het ná skool grondslagfase-onderwys aan die destydse Onderwyskollege Boland in Wellington (nou deel van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie) studeer, en later aan die Universiteit Stellenbosch in die onderrig van leerders met spesiale behoeftes gespesialiseer.

Sy het deur die loop van haar loopbaan ervaring in hoofstroomonderwys en leerondersteuning opgedoen en was ook ‘n opvoeder in ‘n eenheidsklas voordat sy vier jaar gelede by die Dorothea-span aangesluit het.

“My ‘hoekom’ bestaan uit drie dele – beroep, passie en roeping. Onderrig is die beroep wat ek gekies het om ‘n bestaan te maak, maar om met kinders te werk is my passie en die rede waarom ek elke oggend opstaan,” vertel sy.

“As gelowige sien ek my werk met leerders met spesiale behoef­tes as my roeping. Dit verander my werk in ‘n bediening en gee my daaglikse taak ‘n dieper betekenis.”

Gelukwense

Dié getroude ma van twee voeg by dat die pad nie sonder uitdagings is nie.

“Daar is dae wat moeilik is – emosioneel en uitputtend – maar elke uitdaging het my geleer om meer geduldig, kreatief en veerkragtig te wees,” sê Du Toit.

“Vir my is die kern van spesiale onderwys eenvoudig: Elke leerder verdien om gesien, gehoor en ondersteun te word. En dit is ‘n voorreg om deel van daardie reis te wees.”

Dorothea Spesiale Skool het met die aankondiging van Du Toit se nasionale eer ‘n inskrywing op sy Facebookblad gemaak: “Nasionale kampioen in ons midde! Baie geluk aan mev. Lorraine du Toit! Ons bars behoorlik van trots vandag. Mev. Du Toit het die nasionale toekennig vir uitnemendheid in klaskamerpraktyk: LSOB-skole by die SAOU gewen. Dorothea Spesiale Skool is trots en ons vier hiermee u prestasie.”

LEES OOK: Dorothea-onnies deur WKOD vir uitnemendheid vereer

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article