Gedenklesing: Juffrou Eva Johnson maak só geskiedenis in Stellenbosch

Prof. Benita Nel het die ­gedenklesing gelewer. Foto: Desmond Thompson
Prof. Benita Nel het die ­gedenklesing gelewer. Foto: Desmond Thompson

Gedenklesing: Juffrou Eva Johnson maak só geskiedenis in Stellenbosch


Die derde jaarlikse Walter Parry-gedenklesing by die Universiteit Stellenbosch (US) het vanjaar gefokus op ‘n plaaslike onderwysbaanbreker wie se verhaal deel uitmaak van ‘n breër geskiedenis wat dikwels in Suid-Afrika oor die hoof gesien word.

Die lesing, wat op Donderdag 21 Mei by die US se Fakulteit Opvoedkunde aangebied is, het hulde gebring aan die lewe en nalatenskap van Eva Johnson (1931 tot 2012), wat in 1986 die eerste alumna van Hoërskool Lückhoff geword het om ‘n meestersgraad te behaal.

Die lesingreeks is ­genoem na Walter Parry (1913 tot 1966) wat in 1934 ‘n MSc in fisika cum laude aan die Universiteit van Kaapstad behaal het, maar onder Apartheid die geleentheid ontneem is om wetenskap as beroep te beoefen.

Hy het later ‘n gerespekteerde onderwyser in Stellenbosch geword.

LEES OOK: SU pays respect to Walter Parry

Ian Johnson, seun van wyle Eva Johnson, spreek die gehoor toe. Foto: Desmond Thompson
Ian Johnson, seun van wyle Eva Johnson, spreek die gehoor toe. Foto: Desmond Thompson

‘Welkom terug’

Die aand was deel van ‘n gedenk-inisiatief wat verband hou met die geskiedenis van Die Vlakte, ‘n gemeenskap aan die hart van Stellenbosch wat deur gedwonge verskuiwings in die 1960’s vernietig is.

Die geleentheid het plaasgevind in die Opvoedkunde-gebou op die hoek van Ryneveldstraat en Crozierweg.

Prof. Mbulungeni Madiba, die dekaan, het erkenning gegee aan die historiese belang van die gebied.

“Hierdie fakulteit staan op grond waarvandaan mense gedwing is om te trek. Daarom wil ek vanaand vir die gemeenskap sê: Welkom terug! Dit is waar julle hoort. Dit is waar jul kinders moet kom studeer. Hierdie is ook júl fakulteit,” het hy gesê.

Die aand is bygewoon deur voormalige leerders, gemeenskapslede, akademici, nasate van die Johnson- en Parry-families, en huidige Lückhoff-leerders in hul kenmerkende blou-en-oranje skooldrag. Digter Gameeda Henry het haar gedig “Die Vlakte” voorgedra.

Die gedenklesing is gelewer deur prof. Benita Nel, direkteur van die Wetenskapsleersentrum vir Afrika aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Sy was self ‘n Lückhoff-leerder, waar sy in die vroeë 1980’s in Johnson se klas was.

Wyle Eva Johnson. Foto: Ian Johnson
Wyle Eva Johnson. Foto: Ian Johnson

Johnson se lewe

Johnson, gebore Boonzaaier, het in Stellenbosch grootgeword in ‘n tyd toe bruin leerders beperkte toegang tot sekondêre onderwys gehad het.

Lückhoff is in 1935 gestig, vier jaar nadat sy gebore is, maar het eers in 1950 matriek ingestel.

Daar was “vier jong mans en een jong vrou in daardie klas – dit was Eva,” het Nel vertel.

“Daar was nie ‘n hoofseun daardie jaar nie – net een hoofprefek, en dit was Eva.”

Johnson het as ‘n onderwyser aan die Hewat-kollege in Athlone gekwalifiseer en het eers in Malmesbury skoolgegee voor sy teruggekeer het om in haar tuisdorp te onderrig.

Sy het later ‘n BA aan UWK, ‘n honneursgraad deur Unisa, en ‘n MA-graad in Opvoedkunde aan UWK voltooi – alles terwyl sy gewerk en drie kinders grootgemaak het.

In haar proefskrif stel sy ondersoek in na die geskiedenis van kleurlingonderwys in Stellenbosch van 1830 tot 1963.

Geskiedenis gemaak

Die studie begin met die aankoms van eerwaarde PD Lückhoff, wat die dorp se eerste sendingskool (Rhenish Girls’ High School) gestig het, en eindig met die oordrag van kleurlingonderwys aan die destyds nuutgestigte Departement van Kleurlingsake.

Met haar studie het Johnson “deur die plafon gebreek” in die “donker dae van apartheid”, het Nel gesê. “Sy het nie net vir ons geskiedenis geleer nie – sy het geskiedenis gemaak.” Haar verhaal is ‘n “storie wat vertel moet word”.

Stanley Amos, voorsitter van die Lückhoff-alumni, het vertel van die vreugde destyds oor Johnson se prestasie.

“Ek onthou nog baie goed toe die aankondiging gemaak is dat sy haar MA behaal het. Dit was ‘n groot oomblik. Lückhoff het feesgevier.”

Die aand is afgesluit met ‘n dankbetuiging deur Ian Johnson, seun van die vrou wat hy eenvoudig “Mammie” genoem het.

Terwyl hy opgekyk het na ‘n foto wat agter hom geprojekteer is – van Eva in akademiese drag, waar sy trots haar graad in albei hande vashou – het Ian onthou dat hy self die foto geneem het.

“Dit het my 10 minute geneem, want sy wou nie stilsit nie,” het hy met ‘n glimlag gesê.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article