SALDANHA – “Hulle het dít nie verdien nie.”

Dit is die hartverskeurende woorde van twee families wat probeer sin maak van die verlies van hul geliefdes nadat twee neefs binne drie dae in afsonderlike skietvoorvalle in Diazville vermoor is.

Stephen Nero (36) is verlede Donderdag (22 Oktober) in Murraystraat, Diazville, doodgeskiet. Slegs drie dae later, die afgelope Sondagoggend (25 Oktober), is sy neef, Walasrie Ehrenreich (39) – alombekend as “Assie” – in Noordseestraat afgemaai.

Die geweld het voortgeduur, met Theo Kleinsmith wat die afgelope Maandag (26 Oktober) omstreeks 21:20 in Vraagomstraat verskeie kere geskiet is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n polisiewoordvoerder, is Kleinsmith aan sy linkergewrig, ‘n vinger, regterbeen en private dele gewond. Hy is in ‘n ernstige toestand na die Vredenburg- provinsiale hospitaal gehaas.

“Twee verdagtes was na bewering betrokke. Nadat die eerste verdagte opgehou skiet het, het die tweede glo die vuurwapen gegryp en verdere skote op Kleinsmith afgevuur,” sê Helfrich.

Vir Wardah Paulse, Ehrenreich se suster, is die verlies des te meer pynlik. Sy het vertel hoe haar broer reeds die dag voor sy dood deur ‘n groep mans agternagesit is. Die gebeure het die afgelope Saterdag (24 Oktober) begin toe Ehrenreich op pad na die moskee deur vyf mans gejaag is.

Liefdevolle neefs onthou

“Ek het vir hom gesê die beste ding is om maar by die huis te bly totdat dit weer daglig is. Hy wou winkel toe gaan en ek het hom herinner dat hy net vanoggend deur die mans gejaag is. Hoekom sou hy weer op die pad wou wees? Dieselfde vyf mans het hom later weer gekry en agternagesit,” vertel Paulse.

Later die dag het Paulse se seun besluit om weens ‘n samekoms by die kerk oor te slaap. Ehrenreich wou saamgaan, maar Paulse se seun het uiteindelik sonder hom teruggekeer omdat hy nie sy ma alleen wou laat nie. “Ek het gevra waar Assie is, en my kind het vir my vertel dat hy ‘n draai by sy woning gemaak het en daarna weer ‘n draai sou kom maak,” sê Paulse.

Min het sy toe geweet dat haar broer se vertrek van die erf die laaste sou wees en dat hy nooit weer sou terug- keer nie. Toe sy van die skietvoorval hoor, het die selfverwyt ingetree en het sy haarself afgevra waarom sy nie vroeër opgestaan het om hom te gaan soek en huis toe te bring nie.

Ten spyte van die moeilike lewe wat haar broer volgens haar gelei het, vind Paulse troos daarin dat sy hom kon help waar sy kon.

Sy beskryf Ehrenreich as ‘n mense-mens wat daarvan gehou het om met ander te gesels.

Vir die Nero-familie was die nuus van Stephen se dood ‘n groot skok. Met hul aankoms op die toneel het hulle gehoop dat hy nog lewe, maar hy is op die toneel dood verklaar.

Die familie onthou hom as ‘n vreugdevolle en liefdevolle mens wat ‘n besondere vermoë gehad het om mense se harte te verower. “Ons het nooit gedink die dag sou kom nie. Sy dood het baie mense in stukke gelaat en hulle laat wonder – hoekom hy?”

Inwoners wonder hoe die situasie só versleg het en wat gedoen kan word om verdere lewensverlies te voorkom.

Volgens Paulse is dit moeilik om mense te kry wat bereid is om met inligting na vore te kom, maar sy vra mense om dit te begin doen.

Albei families leef in vrees en weet nie wat om volgende te verwag nie.

Stephen Nero (36)
Stephen Nero (36)

Vuurwapengeweld wek kommer

Lt-kol. Kim Whitton, die bevelvoer­der van die Saldanha-polisie, het verlede Woensdag (21 Oktober) op die Saldanha-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se imbizo gesê die meeste geweldvoorvalle in Diazville hou verband met vuurwapens. “Hulle het hul teikens en gee nie om wie rondom hulle is nie – selfs onskuldiges. Ek wil ‘n veilige omgewing vir almal skep,” het Whitton gesê.

Whitton het inwoners ook gewaarsku om versigtig te wees wanneer hulle in WhatsApp-gemeenskapsgroepe inligting deel. Hoewel dié groepe ‘n belang- rike rol in gemeenskapskommunikasie vervul, kan die deel van inligting oor polisiebewegings verdagtes help om die polisie vry te spring.

Vir die families van Nero en Ehrenreich is dié waarskuwings nou deel van ‘n groter werklikheid – die pyn om geliefdes te verloor, die vrees vir verdere geweld en die onsekerheid oor wanneer hul gemeenskap weer veilig sal voel.

Intussen bly die vraag wat by baie inwoners spook: Hoeveel families moet nog treur voordat die geweld tot ‘n einde kom?

LEES OOK: Saldanha rou ná moorde

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 29 October 2026
    Weslander E-Edition – 29 October 2026

Gift this article