‘n Vlaag pienk het Rawsonville se strate verlede Vrydag (23 Oktober) getref, kompleet met pienk ballonne en roomyse.
Die inwoners van Huis Lafras Moolman, ‘n kleuterskool en inwoners van die dorp het ter bewusmaking van Borskankermaand, wat jaarliks in Oktober gehou word, deur die hoofstraat gestap – te voet, op skopfietse en in rolstoele.
“Ons bied hierdie dag aan omdat ons omgee vir mense met kanker. Ons wil seker maak dat mense besef daar is hulp en dat ondersteuning beskikbaar is,” sê ds. Rudolph Scharneck, wat betrokke by Kansa (die Kanker- vereniging in Suid-Afrika) in die Breedevallei is.
Betsie van Zyl, bestuurder by die Huis Lafras Moolmal-aftreeoord, sê die inwoners was gretig om deel te neem. “Kanker is vir hulle ‘n werklikheid met van hulle wat self kanker oorwin het of vriende en geliefdes daaraan afgestaan het. Dis ‘n hartseer onthoudag.”
Een uit elke 28 vroue
Benewens nie-melanoomvelkanker, is borskanker die algemeenste kanker onder Suid-Afrikaanse vroue, met ‘n leeftyd-risiko van een uit elke 28 vroue. Waar dié kanker vroeër meestal onder vroue ouer as 50 gesien is, word dit al hoe meer by vroue in hul laat 20’s en 30’s gediagnoseer, volgens Kansa.
Bors- en servikale kanker is as nasionale prioriteite geïdentifiseer omdat die getal gevalle so vinnig toeneem. Vroue se risiko raak groter hoe ouer hulle word, maar vroue jonger as 40 is ook kwesbaar.
Vroue wat ‘n familiegeskiedenis van borskanker het, oorgewig en onaktief is, alkohol gebruik, swak eetgewoontes het, rook en blootstelling aan chemikalieë het, se kanse om kanker te kry, is groter.
Kansa beveel aan dat vroue gereeld self borsondersoeke doen en mammogramme laat doen. Hoe vroeër kanker opgespoor word, hoe makliker word dit behandel.
Kansa bied ook ‘n high tea-geleentheid op 31 Oktober van 10:00 tot 14:00 by die NG Goudini-gemeente in Rawsonville aan. Die koste is R200.
Diegene wat spanne wil inskryf vir Kansa se 2027 Relay for Life op 6 en 7 Februarie moet dit spoedig doen.
Skakel ds. Scharneck by 074 125 9327 vir nog inligting.
LEES OOK: Booberries hit shelves for Breast Cancer Awareness Month





