Die immergewilde Golden Footsteps-musiekkonsert wat op 11 Oktober in die Worcester-stadsaal gehou was, het vanjaar weer die gehoor se stoutste verwagtinge oortref.
Golden Footsteps word aangebied in samewerking met raadslid Naomi Nel, die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se portefeuljehouer vir maatskaplike dienste en bejaardesorg.
Alhoewel die konsert – wat vanjaar vir die vyfde agtereenvolgende jaar aangebied word – gewoonlik ‘n trekpleister is vir ‘n ouer gehoor, bied dit ook ‘n platform vir jong en opkomende kunstenaars om hul musiek- en sangtalente ten toon te stel.
Onder die bekende sterre van gister was veterane soos Deon Kleynhans van die Restless Children-musiekgroep wat die vertoning geopen het met ‘n keurspel van hul gewildste liedjies, Davy (Kat) Williams, Rocky Roodman, Cedric Andrews, Lanzo Daames, Nathalie Arendse, Sammy Louw, Chris Koopman, Venashree Pienaar, Charles Baxter en sy trio en Ronnie Appolis van Kantienstraat, wat ook vanjaar as mede-aanbieder deelgehad het aan die skouspel.
Ander gewilde musikante wat opgetree het, was onder andere Deon Williams, die pa en seun duo Manie en Ian Steyn, en natuurlik ook die gewilde Duran Visagie, hoofseun en matrikulant by Esselenpark Senior Sekondêre Skool wat die gehoor in vervoering gehad het. Dit was veral sy vertoning saam met sy duetmaat Micka April van die gewilde “My way”, ‘n Frank Sinatra-liedjie wat groot byval gevind het.
Nuwe talent by die konsert was die tienjarige Karli Lukas, Claude Brown, Anwill Andrews, kitaarspeler Frank Amstrong en dan natuurlik een van die gehoor se gunstelinge Auren Rhode met sy lied “I walk with Jesus”. Hy het ook die aand se verrigtinge op ‘n besonderse noot afgesluit met die gewilde “The impossible dream”.
Dat hierdie tipe vertonings van plaaslike kunstenaars ‘n moet is en beslis hier is om te bly, is weer opnuut onderstreep en daar kan dus al byvoorbaat weer uitgesien word na nog baie soortgelyke vertonings vorentoe.


