Alida Buckle (links), redakteur van Weslander, en Noluvu ‘Lulu’ Ludidi, joernalis.

‘Weslander’ blink uit by nasionale toekennings


Weslander se redakteur, Alida Buckle, en joernalis Noluvu Ludidi het vanjaar hul merk onder die land se voorste gemeenskapsjoernaliste gemaak, met albei wat plekke in die top-10 van die AVBOB FCJ Excellence Awards behaal het. Die finaliste is op Vrydag 21 Augustus in Pretoria bekendgemaak.

Die toekennings, wat deur die Forum of Community Journalists (FCJ) aangebied en deur AVBOB geborg word, het vanjaar meer as 600 inskrywings in 17 kategorieë ontvang.

Buckle was ‘n finalis in vier kategorieë, terwyl joernalis Noluvu “Lulu” Ludidi ook ‘n top-10-posisie behaal het.

Buckle het ‘n derde plek in die kategorie vir redaksionele kommentaar behaal, wat haar onder die top-drie in die land plaas.

Sy het ook vierde plek in harde nuus en ondersoekende joernalistiek en in vir foto’s van brekende nuus het sy ‘n vyfde plek in nuusfotografie behaal.

In die nuwe Story of the Year-kategorie het Buckle sewende plek behaal en Ludidi ‘n sesde plek. Dit is ‘n nuwe kategorie wat baie inskrywings gelok het.

Die prestasie beklemtoon die gehalte van die stories wat Weslander oor die afgelope jaar aan sy lesers gebring het, asook die belang van sterk hiperplaaslike joernalistiek.

Gemeenskapsjoernalistiek onder die soeklig

Die prysuitdeling het by The Capital Menlyn Maine in Pretoria plaasgevind en is deur gemeenskapsjoernaliste en mediaverteenwoordigers van oor Suid-Afrika bygewoon.

Die geleentheid het ook ‘n seminaar oor die rol van gemeenskapsjoernaliste in die aanloop tot die komende munisipale verkiesings ingesluit.

Eugene Strauss, AVBOB se hoof uitvoerende beampte, het gemeenskapsjoernalistiek beskryf as ‘n belangrike grondslag vir vertroue en aanspreeklikheid binne plaaslike gemeenskappe.

Die beoordelingspaneel is gelei deur dr. André Gouws van Akademia en het uit 22 ervare joernaliste en akademici bestaan.

Die nasionale erkenning is ‘n belangrike prestasie vir Weslander, wat reeds 54 jaar lank die gemeenskappe van die Weskus bedien.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 August 2026
    Weslander E-Edition – 27 August 2026

Gift this article