Die Weskus het lanklaas só ‘n bloedvergietende naweek beleef soos die afgelope betaaldagnaweek tussen Vrydag 4 Julie en Maandag 7 Julie.

Volgens Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-distriksmunisipaliteit, is Sibongile Tyola (31) op Sondag 5 Julie net ná 03:00 op die hoek van Aristia- en Arnumstraat in Laaiplek, Velddrif, in die nek gesteek. Sy is op die toneel oorlede.

Haar kêrel, Thembelihla Mqinyana (25), het op Maandag 7 Julie in die Laaiplek-landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Die Citrusdal-polisie ondersoek die omstandighede waarin Lillo Thatho (36) sy broer Puseka (29) op Saterdag 5 Julie met ‘n mes doodgesteek het. Lillo Thatho het Maandag (7 Julie) in die Citrusdal-landdroshof verskyn.

Gcobani Hlwatika (21) het dieselfde dag in dieselfde hof verskyn, ook op aanklag van moord. Hy het na bewering vroegaand op Saterdag 5 Julie vir Mihleu Ntame (25) in Lemoenstraat met ‘n mes doodgesteek.

Op Sondag 6 Julie is Frikkie Koopman (43) laatmiddag twee keer in die nek gesteek. Hy is dood in sy huis op ‘n plaas in die Vredendal-omgewing aangetref. Die polisie ondersoek die omstandighede rakende sy moord.

In Riebeek-Wes het Petro Papier (30) se voormalige meisie, Lee-Ann Jansen (25), hom na bewering vroegaand op Saterdag 5 Julie in die nek gesteek. Hy is in die Riebeek-Wes-hospitaal weens sy beserings oorlede. Jansen het Maandag in die rondgaande hof op aanklag van moord verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 February 2026
    Weslander E-Edition – 12 February 2026

Gift this article