Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, die distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
Branwill Cloete (21) het Maandag 6 Julie in die Vredendal-landdroshof op aanklag van poging tot moord verskyn nadat hy Vrydagnag na bewering ‘n 31-jarige Somaliër in sy winkel in Pholapark met ‘n mes aangeval het.
Die omstandighede rakende ‘n moord op Saterdagoggend (4 Julie) in Van der Stelstraat, Graafwater, word ondersoek. Coby Beukes (26) het na bewering sy broer, Daniel (Neil) Beukes (29) omstreeks 04:00 met ‘n mes bygekom. Daniel het later die middag aan sy veelvuldige meswonde gesterf. Coby, wat al vele kere in die hof verskyn het vir onder meer aanranding met die doel om ernstig te beseer en opsetlike saakbeskadiging, het Maandag in die hof verskyn.
In Porterville het ‘n 68-jarige man glo Vrydagoggend (3 Julie) ‘n doughnut van R8,99 by ‘n bekende winkel in Voortrekkerstraat bestel. In plaas van om daarvoor te betaal, hy het egter dit in sy sak gedruk en probeer om by die winkel uit te loop. Hy is vir winkeldiefstal in hegtenis geneem. Só het ‘n 26-jarige vrou van Piketberg dieselfde oggend tennisbeskuitjies onder haar klere probeer versteek. Sy is ook vir winkeldiefstal in hegtenis geneem. Later dié dag is ‘n 38-jarige man in Malmesbury vir winkeldiefstal in hegtenis geneem omdat hy ‘n 1-liter-blik verf probeer steel het.
Magrieta Afrikaner (55) van Moorreesburg is Vrydagaand 29 Junie omstreeks 20:30 op die N7-kruising deur ‘n voertuig getref. Sy is op die toneel dood.
Sowat R4 000 se sigarette is Sondagaand 28 Junie uit ‘n winkel in Langstertjiestraat in Witteklip, Vredenburg, gesteel. Die verdagtes het die 42-jarige winkeleienaar vir gratis sigarette gevra. Hy het geweier en die verdagtes het die sigarette deur ‘n venster gegryp.
’n Poging-tot-moord-saak word in Vredenburg ondersoek nadat ‘n 42-jarige vrou Dinsdagaand 30 Junie omstreeks 23:20 in Wesbank geskiet is. Die verdagtes het die huis na bewering betree, na die vrou se kamer gegaan en op haar begin skiet. Sy is drie keer in die rug getref. Haar vriend is in die gesig geslaan toe hy die verdagtes wou keer. Die verdagtes het daarna gevlug.





