Die Yzerfontein-inwoner en sanger Tiaan Grundling het sy nuwe enkelsnit, “Afrika, My Huis (Bosveld Hart)”, die afgelope Vrydag (3 Julie) op alle groot digitale musiekplatforms vrygestel. Die liedjie, geskryf deur André Huysamen, is ‘n opregte huldeblyk aan Afrika, Suid-Afrika se asemrowende landskappe en die gevoel van tuiskoms wat die natuur by mense wek.
Die enkelsnit vertel met beeldryke lirieke wat die Bosveld, riviere, berge, die sterrehemel en die Suiderkruis oproep, ‘n verhaal van verbondenheid, identiteit en liefde vir die land. Vir Grundling is die lied besonder persoonlik. Hy sê sy liefde vir die natuur, Suid-Afrika se uiteenlopende landskappe en sy mense het hom diep met die boodskap van die lied laat vereenselwig. “Dit het iets in my wakkergemaak, wat moeilik is om in woorde vas te vang. Dit gaan oor behoort, oor stilte, oor die manier waarop die land self met jou praat. André het dit perfek vasgevang.”
“Afrika, My Huis (Bosveld Hart)” gee uitdrukking aan die trots van iemand wat sy wortels ken.




