Plaaslike sakeondernemings en vrywilligers, onder wie oorsese toeriste, wat die strand by Pelikaanstrand-oord op 5 Maart skoongemaak het. Foto: Letitia Van Zyl-Schultz

Die kusgemeenskappe van Velddrif en Laaiplek het op Donderdag 5 Maart hul eerste gesamentlike strandskoonmaakprojek van stapel gestuur. Die inisiatief, wat deur die plaaslike inwoners Jacques Naude en Cindy Magee begin is, het sowat 30 vrywilligers gelok, insluitend vakansiegangers uit Amerika en Brittanje, wat spontaan ‘n handjie bygesit het.

Die groep het by die Pelikaanstrand-oord in Velddrif bymekaargekom en binne ‘n paar uur 17 sakke vol rommel opgetel. Volgens Naude is die doelwit om die projek ‘n maandelikse instelling te maak en stelselmatig op al die strande in die omgewing te fokus.

“Ons wil die gemeenskappe van Velddrif, Dwarskers en Noordhoek betrek en terselfdertyd die druk op die munisipaliteit verlig,” het hy gesê.

Hoewel die projek nie as ‘n formele organisasie geregistreer is nie, beklemtoon Naude dat dit ‘n gemeenskapsaak is wat mense bymekaar bring. Hy en Magee beplan om ook by ander plaaslike inisiatiewe, soos die Sopkombuis, betrokke te raak.

“Ons het eenvoudig besluit dat ons wil help en ‘n verskil maak,” het Magee verduidelik.

Plaaslike sakeondernemings het die vrywilligers ondersteun: Rawson Eiendomsagente, wat onlangs in Velddrif oopgemaak het, en Timeless Treasures het koffie en water gegee en elke deelnemer is met ‘n geskenkbewys bedank. Hierdie gebaar het die samehorigheid van die dag verder beklemtoon.

Die volgende strandskoonmaakdag is reeds geskeduleer vir 28 Maart by Zeesicht-strand. Naude en Magee nooi alle belangstellendes om deel te word van die projek.

• Vrywilligers kan Naude by 069 510 3277 of Magee by 082 781 7555 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article