VELDDRIF – Teen die agtergrond van die Wes Kaapse Vereniging vir Nie-Winsgewende Organisasies se beroep op die Wes-Kaapse departement van gesondheid vir beter ambulansdienste in Velddrif en omliggende gebiede, het die eerste groep vrywilligers Donderdag 6 Augustus hul noodhulp-opleiding by die Noordhoek Gemeenskapsaal begin.
Die opleiding vorm deel van die organisasie se poging om die gemeenskap beter toe te rus om in noodgevalle op te tree terwyl professionele nooddienste onderweg is.
Sowat 22 lede van die gemeenskap het die eerste opleidingsessie bygewoon. Dit is aangebied deur Jan Hahne, stasiebevelvoerder van Saldanhabaai-nooddienste. Volgens Hahne sal ongeveer 75 inwoners tussen 6 en 28 Augustus opgelei word.

Deelnemers wat die kursus suksesvol voltooi, sal op Vrydag 28 Augustus hul sertifikate ontvang.
Raadslid Johan Moolman en Willem Nel het voor die aanvang van die opleiding, namens Laaiplek Spar en Laaiplek-apteek, 30 noodhulpsakke aan die projek oorhandig.
Moolman het gesê noodhulpkennis is van onskatbare waarde en kan die verskil tussen lewe en dood beteken. “Ons waardeer elke persoon wat bereid is om sy of haar tyd af te staan om hierdie opleiding te voltooi en sodoende ‘n verskil in die gemeenskap te maak,” het hy gesê.
Die opleiding geskied die hele Augustus en het ten doel om ‘n netwerk van opgeleide noodpersoneel in die Velddrif-omgewing te vestig. Hulle sal kan ondersteuning bied tot ambulansdienste op die toneel aankom.
Vir meer inligting, kontak Deon Britz by 084 888 0597.






You must be logged in to post a comment.