Sowat 22 inwoners het op Donderdag 6 Augustus in die Noordhoek-gemeenskapsaal met noodhulpopleiding begin as deel van ‘n poging om die Velddrif-gemeenskap beter vir noodgevalle toe te rus.
Die opleiding volg te midde van ‘n beroep op die Wes-Kaapse departement van gesondheid vir beter ambulansdienste in Velddrif en omliggende gebiede.
Jan Hahne, stasiebevelvoerder van Saldanhabaai-nooddienste, bied die opleiding aan. Volgens Hahne sal sowat 75 inwoners tussen 6 en 28 Augustus opgelei word.
Die doel is om ‘n netwerk van opgeleide noodhulppersoneel te vestig wat ondersteuning kan bied totdat professionele nooddienste opdaag.
Laaiplek Spar en Laaiplek-apteek het 30 noodhulpsakke aan die projek geskenk.
Raadslid Johan Moolman het gesê noodhulpkennis kan die verskil tussen lewe of dood beteken en diegene wat hul tyd afstaan, moet waardeer word.
Deelnemers wat die kursus suksesvol voltooi, ontvang op 28 Augustus hul sertifikate.





