HOPEFIELD – Hopefield-polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om te help om ’n man wat in Junie in ‘n tref-en-trap-voorval op die R45 dood is, te identifiseer en sy familie op te spoor.
Volgens die polisie is die oorledene, bekend as Jay-Jay Plaatjies, op 23 Junie omstreeks 19:58 in ’n tref-en-trap-voorval op die R45 tussen Hopefield en Vredenburg, by die Langebaan-kruising, betrokke.
Die polisie het vasgestel dat die man in die Tsitsiratsitsi 3-informele nedersetting in Vredenburg gewoon het.
Speurders doen nou ’n beroep op sy familie en vriende om met die polisie in verbinding te tree.
Enigiemand wat inligting oor die man se identiteit of familie het, kan speurbevelvoerder ao Dian Lourens by 022 723 8006 of 082 469 6431 kontak. Inligting kan ook aan Crime Stop by 08600 10111 verskaf word.
Die polisie versoek die gemeenskap om enige inligting wat kan help om die man se familie op te spoor, met hulle te deel.





