VREDENBURG – Die strafsaak teen Mandy Wood (51), ‘n eiendoms- agent van Langebaan wat teregstaan op byna 20 aanklagte van bedrog of alternatiewelik diefstal, is verlede week in die Vredenburg-streekshof tot Maandag 30 November uitgestel.

Die staat en Wood se regsverteenwoordigers is steeds besig met onderhandelings oor ‘n moontlike pleitooreenkoms.

Wood word daarvan beskuldig dat sy vakansiegangers se geld vir verblyf aan die Weskus ontvang het, maar dat die besprekings glo nie gemaak is nie.

Die beweerde bedrog hou verband met sowat R270 000.

Die klagtes spruit uit vakansiebesprekings wat onder meer op Facebook geadverteer is deur “Western Cape Coastal Holiday Bookings”, “Mandy Wood Properties” en “Mandy Wood Guesthouses and Property Management”.

Uit vorige hofverskynings het geblyk verskeie vakansiegangers het glo by hul bestemmings opgedaag sonder geldige besprekings, terwyl hulle reeds vir verblyf betaal het. Sy het glo nooit die besprekings gedoen nie en glo “per ongeluk” die klaers “dubbeld” vir vakansieverblyf bespreek.

Wood word sedert haar inhegtenisneming in Desember 2024 aangehou. Sy het vroeër in die saak haar aansoek om borgtog laat vaar, en die staat het aangedui dat hy vir tronkstraf sal vra indien pleitonderhandelings nie tot ‘n ooreenkoms lei nie.

Die saak is tot 30 November uitgestel.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 1 October 2026
    Weslander E-Edition – 1 October 2026

Gift this article