Die pyn van ‘n familie wie se geliefde op Vrydag 21 Augustus skielik van hulle weggeruk is, het opnuut opgevlam toe die verdagtes in sy moord in die hof verskyn het.
Die verdagtes het eergister (Dinsdag 29 September) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is Lionel Kemp (57) op Vrydag 21 Augustus in Langstertjiestraat met steekwonde gevind.
“Hy is omstreeks 20:45 aangetref, het ‘n wond aan sy mond gehad en is op die toneel dood,” het Helfrich bygevoeg.
Soos Kemp se susterskind, Debbie Kemp, destyds aan Weslander vertel het, was Lionel op pad na haar huis, soos elke aand, om sy bord kos te gaan haal.

Lionel het egter nooit sy bestemming bereik nie.
“Toe hy nie opdaag nie, het ek nie juis gedink iets het met hom gebeur nie.
“Die nuus van sy wrede moord het egter soos ‘n yskoue skok oor my gekom,” het Debbie vertel.
Die familie doen ‘n beroep op die pu- bliek om hul rouproses te respekteer.
“Ons wil hê geregtigheid moet geskied en dat daar geen borgtog vir die beskuldigdes moet wees nie,” sê die familie.
Die saak is tot Vrydag 9 Oktober vir ‘n verdere borgtogaansoek uitgestel.





