KI speel gewis ‘n reuse-rol in die aanloop tot die 2026-verkiesing.
ChatGPT werk oortyd om plakkate te skep met kandidate se foto’s en beloftes, en woordryke skryfsels tref sosiale media soos digterlike pyle.
Daarmee saam kom ‘n nuwe “digterlike vryheid” wat selfs die goedgelowiges hul koppe effens skeef gaan laat draai.
‘n “Voorstelling” van ‘n Olimpiese grootte binnenshuise swembad het die week nogal die oog gevang. Sal lekker wees ja, maar waar gaan die geld daarvoor vandaan kom?
Met die vorige verkiesingsveldtogte is erg op die lot van kleinskaalse vissers gekonsentreer, met sommige politici wat selfs uit hul duim gesuig het dat hulle afstam van vissermanne – iets wat toe glad nie so is nie.
Wat sal nie nog vir kiesers gesê en belowe word om hul stemme te werf nie?
Weslander belowe om die verkiesing – soos al die dekades – steeds objektief en regverdig te benader.
Lesers moenie betaalde advertensies met nuusberigte oor die verkiesing verwar nie.
Ons probeer wel, soos wat dit met amptelike e-posse aan ons gekommunikeer word, om elke party se burgemeesterskandidaat uit te lig.
Kiesers moet egter self hul oë wawyd oophou vir uitsprake wat te goed is om waar te wees.
ChatGPT kan enigiemand se idees in “sinvolle” retoriek omskep, wat bedoel is om te mislei en stemme te werf – nié om mense in te lig nie.




