SALDANHA – Die verlies van ‘n kind laat ‘n leemte wat geen woorde kan vul nie.
Vir moeders wat met dié pyn saamleef, het die Good Sons & Good Daughters-byeenkoms, met die tema Always Loved, Never Forgotten, ‘n ruimte geskep waar hulle hul hartseer kon deel, hul kinders se nagedagtenis kon eer en mekaar op die pad van genesing kon onder- steun.
Die byeenkoms, ‘n Healing Circle for Mothers, het Saterdag (24 Oktober) by die Baptist Church in Diazville plaasgevind en moeders bymekaargebring wat hul kinders in verskillende omstandighede, waaronder moord, siekte en ongelukke, verloor het.
Volgens die organiseerder, Zedra (Zahida) Abrahams, was die doel om ‘n veilige ruimte te skep waar moeders met soortgelyke ervarings mekaar kon verstaan, bemoedig en vertroos.

Verpletterende nuus
Abrahams het self haar seun, Ayrton Vraagom (28), verloor toe hy op Saterdag 11 Junie vanjaar vermoor is. Dié verpletterende nuus was iets wat sy glad nie verwag het nie. Hierdie tragiese ervaring het haar aangespoor om ander moeders by te staan en só ook haar seun se lewe te onthou.
“Ek wil nooit my kind vergeet nie. Ek wil altyd vashou aan die mooi nagedagtenis van hom. Ek wil hê sy naam moet altyd in goeie geselskap ter sprake kom,” het Abrahams gesê.
Sy het verduidelik dat die pyn, woede, teleurstelling en talle onbeantwoorde vrae wat met die verlies van ‘n kind gepaardgaan, moeilik is om alleen te verwerk.
Abrahams het gehoop moeders wat hul ervarings met mekaar deel, sou mekaar kon aanmoedig en vertroos, al was dit soms net deur ‘n drukkie.
“Ek wil hê elkeen moet hul kind se naam hardop sê, want elkeen se kind is deel van hulle wat uitgeruk is. Ons moet hul nagedagtenis onder een dak vier,” het sy gesê.
Die program het onder meer gebed, boodskappe oor genesing, ‘n gedenkkoek en ‘n teeseremonie en ‘n gesprek met die gasspreker, Gail Roman, ‘n professionele berader, ingesluit.
Moeders is tydens ‘n kersaansteekseremonie genooi om foto’s van hul kinders te plaas en hul name hardop uit te spreek.
Die geleentheid het ook ruimte gebied vir die deel van persoonlike ervarings, geestelike ondersteuning en gesamentlike herinnering. Abrahams het beklemtoon moeders wat ‘n kind verloor het, is nie alleen nie, selfs wanneer elkeen se rouproses anders lyk.
Passie
“Ons loop die pad op ons eie passie, maar dit is belangrik om gesond te raak. Ons sal ons kinders nooit vergeet nie en ons sal hul name hardop sê,” het sy gesê.
Vir Abrahams was die geleentheid ‘n reusesukses. Volgens haar het vroue met stukkende harte daar aangekom, maar met ‘n gevoel van verligting vertrek.
“Ek het self healing gevoel. Ons het gehuil, saamgestaan en ‘n vrolike samekoms gehad.
“Dit was iets om te ervaar.”
Volgens Abrahams het die moeders ook waardevolle leiding ontvang oor hoe om hul rou op ‘n gesonde manier te verwerk.
Sy het verwys na Roman se boodskap oor die verskil tussen gesonde en ongesonde rou en gesê sy hoop die moeders het die nodige hulpmiddels ontvang om hul verlies op ‘n gesonde manier te hanteer.
Die konferensie het ‘n boodskap van verbondenheid met liefde, herinnering en genesing as grondslag gebring – hoewel die verlies van ‘n kind ‘n moeder se lewe vir altyd verander, hoef sy nie haar pyn alleen te dra nie.
LEES OOK: Ma se pyn nou haar nuwe doel



