'n Datasentrum in Marseille, Frankryk. Foto: Alexandre Viard | Unsplash
‘n Datasentrum in Marseille, Frankryk. Foto: Alexandre Viard | Unsplash

Nee vir datasentrum, sê Moorreesburg-inwoners


MOORREESBURG – Die gemeenskap van Moorreesburg skop vas teen planne vir die bou van ’n reuse-sonplaas en ’n dorstige datasentrum in dié dorpie.

Terwyl droogte dreig, slurp datasentrums derduisende liter water op – hoofsaaklik vir verkoeling. Opportunity Green skryf op sy webwerf ’n groot datasentrum kan daagliks 15 000 liter water verbruik. Dit is gelyk aan die daaglikse waterverbruik van 40 000 mense.

Dit verbruik ook groot hoeveelhede krag – om ’n datasentrum aan die gang te hou, kan daagliks sowat 40 MW gebruik. Dit is soortgelyk aan die kragverbruik van sowat 100 000 gemiddelde huishoudings per dag.

Weens die invloed op die omgewing het sowat 100 huisgesinne nou ’n versoekskrif onderteken om die Swartland-munisipaliteit te oorreed om ’n aansoek af te keur vir die hersonering van altesame 10 ha kleinhoewes na ’n nywerheidsgebied. Dit word geoormerk vir die oprigting van die sonplaas en datasentrum.

Die ligging van die voorgestelde datasentrum. Grafika: Mroné Schaap | Die Papier

Marius Posthumus, ’n mariene-ingenieur wat op ’n kleinhoewe in Hooikraal woon – reg langs die grond waar ontwikkelaars beplan om die datasentrum en sonplaas op te rig – sê hy het ’n brief oor ’n hersoneringsaansoek vir ses kleinhoewes na ’n spesiale nywerheidsgebied onder oë gehad.

Hy en inwoners meen Moorreesburg is onder beleg van Amerikaanse maatskappye wat reg oor die wêreld datasentrums wil bou en die inwoners se water, grond en lug teiken. Die maatskappye het veral hul visier op klein dorpies omdat hulle dink die mense is oningelig, sê Posthumus.

Diana van der Merwe, wat op ’n plaas buite Moorreesburg woon, sê inwoners het feitlik geen inligting oor die projek nie, maar moet teen Maandag (26 Oktober) kommentaar lewer. “Ons weet nie waarop ons kommentaar moet lewer nie, want ons weet nie wat die uitwerking van die projek op ons mense en natuurlike omgewing – veral ons water – gaan wees nie.

“Ons dring daarom by die Swartland-munisipaliteit aan om ’n moratorium vir minstens ’n jaar op die hersoneringsplanne te plaas totdat al ons vrae beantwoord is.”

Van der Merwe en Posthumus is dit eens dat die hersoneringsaansoek “onmiddellik” in sy spore gestuit moet word.

Posthumus het die versoekskrif opgestel en gaan dit op 26 Oktober by die munisipaliteit indien.

Internasionale opstand

Die spoed waarteen datasentrums verrys, wat rekenaars vir die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) en stromingsdienste huisves, kom teen ’n groot omgewingskoste.

KI-modelle verbruik geweldig baie krag. Daarmee saam verbruik dit massiewe hoeveelhede water.

Terwyl ’n stryd teen klimaatsverandering woed, veroorsaak hierdie digitale vooruitgang juis dít waarteen die mensdom veg.

Mense is op verskeie plekke in die wêreld besig om meer inligting oor die omgewingsimpak van dié datasentrums te verkry.

The New York Times skryf dat ’n plan om een van Europa se grootste datasentrums in ’n landelike gebied in Devon in die suidweste van Brittanje op te rig nou die wind van voor van inwoners kry. Plakkate waarop “Devon-datamonster” staat hang in winkelvensters.

Mense in dele van Amerika, Europa, Australië en Kanada kom nou in opstand teen die oprigting van datasentrums. Hulle sê as die projek goedgekeur word, sal die hittepluim wat die sentrum uitstraal, asook die water wat die aanleg vir verkoeling gebruik, ’n baie negatiewe invloed op boerderybedrywighede in die gebied hê.

“Boonop gaan dit ons beperkte waterbronne opsuig. Die aanhoudende gedreun van die datasentrums se verkoelingstelsels, waaiers en dieselopwekkers gaan lug- en klankbesoedeling veroorsaak. Die invloed van ’n datasentrum in Moorreesburg gaan ’n vernietigende impak op die voortbestaan van die dorp hê,” waarsku Posthumus.

Hy wys daarop dat die hersoneringsaansoek daarvan melding maak dat die sonplaas “bykomende” krag vir die dorp beskikbaar gaan maak.

“Dit is onwaar. Die sonplaas gaan glo 12 MW krag opwek. Dit is skaars genoeg om die datasentrum dag en nag aan die gang te hou,” voorspel hy.

Binne 'n datasentrum in Kayseri, Turkye. Foto: Ismail Enes Ayhan | Unsplash
Binne ‘n datasentrum in Kayseri, Turkye. Foto: Ismail Enes Ayhan | Unsplash

Nee, vir datasentrums

Intussen het David Harper van Langebaan onlangs ’n groep, No to Data Centres, gestig. Die groep het reeds meer as 400 lede, wat inligting oor datasentrums – veral dié wat vir die Wes-Kaap beplan word – met mekaar deel.

Harper sê dit blyk daar bestaan “’n oorweldigende haas” om datasentrums oor Suid-Afrika heen op te rig. “Dit is ’n heel nuwe konsep vir Suid-Afrikaners. Ons het nie al die inligting hieroor nie.”

Hy meen dit is byna soos ’n tsoenami wat Suid-Afrika getref het. “Ons moet dit stop. Dit begin gewoonlik by plaaslike owerhede se hersoneringsplanne. Baie van die ontwikkelaars draai mense ’n rat voor oë deur voor te gee dat hulle net ’n pakhuis op ’n stuk grond gaan oprig. Die volgende oomblik is daar ’n klomp energievretende rekenaars binne-in die pakhuis.”

Volgens Harper gaan dit die verstand te bowe dat die Wes-Kaapse DA-regering reeds 13 kleiner datasentrums oral in Kaapstad laat oprig het, terwyl dié stad self nie eens genoeg water het nie. “Kaapstad was in 2017 en 2018 die eerste stad in die wêreld wat Dag Zero in die gesig gestaar het – en dié scenario is weer op pad,” waarsku hy.

Volgens Harper bestaan geen regulasies – provinsiaal of nasionaal – waaraan datasentrums moet voldoen nie.

Martmarie Haasbroek, ’n woordvoerder van die Swartland-munisipaliteit, sê die advertensies vir die hersoneringsaansoek is in twee plaaslike koerante asook in die Provinsiale Staatskoerant gepubliseer.
Die aansoek is nog onder oorweging, het sy gesê.

Wat sê Moorreesburg se versoekskrif?

Die gemeenskap erken die belang van tegnologiese vooruitgang, maar die voorgestelde projek vir Moorreesburg bedreig die welstand van die inwoners van die dorp, hul natuurlike omgewing en gedeelde hulpbronne.

Datasentrums verbruik massiewe hoeveelhede water. Moorreesburg was in 2018 feitlik sonder drinkwater en baie mense is steeds van boorgatwater afhanklik. Die projek gaan groot druk op die elektrisiteitsinfrastruktuur plaas.

Die konstruksie van die projek gaan tot habitatvernietiging, verhoogde verkeersvloei, hittepluime en geraasbesoedeling lei.

Inwoners is nie behoorlik ingelig oor die doel van die projek nie.

Inwoners eis dat ’n behoorlike, deursigtige omgewingsimpakproses gevolg word.

Brief aan MRK vir regulering

Kamil Daniel, ’n prokureur by die Regshulpraad (RHR), sê dié raad het namens vyf nie-regeringsorganisasies ’n brief aan die Menseregtekommissie (MRK) geskryf om druk op die regering te plaas om dringend regulasies op te stel waaraan datasentrums, “wat nou soos paddastoele” oral in die land verrys, moet voldoen.

Luidens die brief is daar nou meer as 60 datasentrums wat wag om oor die land heen opgerig te word. “Die RHR besef dat datasentrums onder meer die ruggraat van kunsmatige intelligensie is, maar regulasies moet opgestel word waaraan hulle moet voldoen,” skryf Daniel.

Die LRC, wat onder meer Open Secrets, Housing Assembly en Foxglove, ’n Britse regsfirma, verteenwoordig, het in April gesorg vir ’n moratorium op die bou van Equinix se massiewe datasentrum naby die Kaapstadse lughawe, oorkant Gugulethu.

Luthando Tyhalibongo, die Stad Kaapstad se woordvoerder, sê Kaapstad is bewus van mense se kommer en weerstand teen die ontwikkeling van die datasentrum by die lughawe.

Die saak is tans “onder bespreking en deel van die appèlproses”.

Die berig het oorspronklik in Die Papier verskyn. Hulle het geen reaksie van die verskillende Wes-Kaapse staatsdepartemente ontvang nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 29 October 2026
    Weslander E-Edition – 29 October 2026

Gift this article