‘n Geleentheid van ‘n leeftyd het op die pad van ‘n jong rugbyspeler in Hopefield gekom.
El-dean Marthinus, ‘n leerder van die Hoërskool Hopefield, is gekies om deel te wees van die Rugby Travel Academy (RTA) SA Invitational XV-span, wat in Desember aan die Global World Schools Festival in Thailand gaan deelneem.
Die toernooi, wat gedurende die Desember-skoolvakansie plaasvind, bring topskoolspanne van reg oor die wêreld byeen en bied aan jong rugbyspelers die geleentheid om hul vaardighede teen spelers uit verskillende lande en kulture te toets.
Volgens die Len Olivier, die stigter van die Rugby Travel Academy, is die uitnodiging meer as bloot ‘n rugbytoer, maar deel van ‘n ontwikkelingspad wat daarop gemik is om jong, belowende rugbyspelers vir moontlike professionele rugbyloopbane voor te berei.
“Die spelers sal toegang tot afrigting van hoë gehalte kry en waardevolle ervaring opdoen wat hulle as rugbyspelers en individue kan help ontwikkel,” voeg hy by.
Volgens El-dean was dit ‘n absolute eer om uit te vind dat hy hierdie groep kon verteenwoordig.
Geleentheid om talente te ontwikkel
“Ek sal jok as ek sê dat daar geen goeie emosies betrokke was nie. Om te voel dat al die harde werk uiteindelik nie ongesien gaan nie en dat ek weer ‘n geleentheid kon kry vir iets so wonderlik,” vertel hy.
El-dean meen die toernooi is ‘n wonderlike geleentheid om weer eens sy Godgegewe talente uit te voer en om net onder die oog van klubs en spanne te kom, wat ‘n goeie toekoms vir hom kan inhou.
El-dean se ouers, Sheridene Jacobs en Elton Marthinus, sê hulle is besonder trots op sy prestasie en dankbaar vir die talent waarmee hy geseën is.
“Dit spreek vanself dat ons baie trots is op sy prestasies en dankbaar is vir sy Godgegewe talent. Ons weet hy sal beslis sy vaardighede in Thailand ten toon stel.
Hierdie geleentheid gaan oor rugbyontwikkeling, kulturele uitruiling en waardevolle ondervinding,” sê hulle.
Die gesin het reeds verskeie geldinsamelings gehou om die koste van die toer te help dek.
Hulle sê dit is egter uitdagend om borgskappe te bekom, aangesien maatskappye en ander instansies dikwels huiwerig is om individuele sportdeelnemers te borg of selfs ‘n skenking te gee.
Hulle doen daarom ‘n beroep op die gemeenskap en moontlike borge om deel van El-dean se reis te word.
Om die droom ‘n werklikheid te maak, het El-dean R49 000 teen die einde van November nodig. Sou jy ‘n bydrae wil gee, kontak Sheridene by 065 337 4655 of Elton by 073 393 4681.
LEES OOK: Weskus-rugby in kollig





