Die baggerboot Hopper 1 langs die beskadigde kaai. Foto: Danie Hefers
Die baggerboot Hopper 1 langs die beskadigde kaai. Foto: Danie Hefers

Houtkaai verloor stryd teen lank geankerde baggerboot


ST HELENABAAI – ‘n Houtkaai in dié Weskusdorp se bekende en bedrywige hawe het gedeeltelik in duie gestort, vermoedelik weens ‘n reuse baggerboot (dredger), Hopper 1, wat al sedert Oktober verlede jaar teen dit geanker lê.

Verskeie van die kaai se stutpale het intussen meegegee, waarna dosyne dekbalke ineengestort het en nou op die vlak seebodem lê. Die res van die kaai is tans onveilig en onstabiel en is ‘n gevaar vir die dosyne besoekers en toeriste wat die hawe gereeld besoek vir etes en besigtiging van die vistreilers.

Die vermoede bestaan dat die baggerboot en sy verskeie ankertoue se stamp- en stootbewegings tydens sterk windtoestande, moontlik die skade aan die kaai kon veroorsaak het.

Hopper 1 is ‘n drywende stortbakvaartuig wat gebruik word om bodemsand, onder meer in hawens, op te suig, te stoor en dan in die diepsee te stort.

Die baggerboot Hopper 1 lê in 2025 in die Sandy Point-hawe in St Helenabaai geanker. Foto's: Danie Hefers
Die baggerboot Hopper 1 lê in 2025 in die Sandy Point-hawe in St Helenabaai geanker. Teen 2026 is die kaai langs die vaartuig erg beskadig. Foto’s: Danie Hefers

Die vaartuig is tans in ‘n verwaarloosde toestand en is intussen deur vandale en kabeldiewe geteiken. Die stuurkajuit het behoorlik deurgeloop en is kaal gestroop van elektroniese toerusting, kabels en bedrading. Toegang is vermoedelik verkry deur ‘n kajuitvenster stukkend te slaan.

Weslander het die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) vir kommentaar genader.

Volgens Zolile Nqayi, die kommunikasiedirekteur van DFFE, dra die departement nie kennis van die skade aan die hawekaai nie. Hy het verder gesê die eienaars van die betrokke boot sal op eie koste die skade moet herstel en verseker dat die kaai in ’n goeie toestand agtergelaat word voordat die vaartuig die geproklameerde vissershawe van St Helenabaai, die Sandy Point-hawe, verlaat.

Die skade aan die kaai.
Die skade aan die kaai is duidelik sigbaar. Foto: Danie Hefers

Nqayi sê die geproklameerde vissershawe akkommodeer vissersvaartuie sowel as vaartuie wat nie vir visvang gebruik word nie. ’n Vasmeer-aansoek word voltooi vir vaartuie wat van plan is om in die hawe vas te meer.

Volgens DFFE is fakture vir die duur van die Hopper 1-vaartuig se ankertyd in die hawe uitgereik. “Die eienaars van die vaartuig sal die kaai herstel voordat die vaartuig die geproklameerde vissershawe van St Helenabaai verlaat. Die houtblokke in die kaai sal deur die vaartuigeienaars vervang moet word,” het Nqayi gesê.

Volgens DFFE word herstelwerk aan die vaartuig gedoen om die bedrading en kabels te herstel en daar word verwag dat Hopper 1 na sy volgende bestemming sal vertrek, sodra die herstelwerk voltooi is.

Weslander het ook die eienaars van die vaartuig in Port Elizabeth vir kommentaar genader, maar wag egter steeds vir terugvoering en antwoorde.

Blaai gerus deur die Foto-album met foto’s deur Danie Hefers:
  • Die baggerboot Hopper 1 langs die beskadigde kaai. Foto: Danie Hefers

LEES OOK: KYK | Seldsame haai spoel uit in Weskus

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 29 October 2026
    Weslander E-Edition – 29 October 2026

Gift this article