Die Graad R-leerders van Diazville Primêr het onlangs die wêreld van werk tydens ‘n besonderse beroepsdag verken.
Die dag het die jong leerders die geleentheid gebied om op ‘n prettige en praktiese manier met verskillende beroepe kennis te maak.
Hulle kon meer leer oor beroepe soos dié van ‘n brandweerman, dokter, onderwyser en polisiebeampte.
Volgens die skool was die doel om leerders reeds op ‘n jong ouderdom aan te moedig om oor hul toekomsdrome te begin dink en die verskillende moontlikhede wat vir hulle voorlê, te ontdek.
Die skool het sy dank uitgespreek teenoor die beroepslui, ouers, personeel en ander rolspelers wat hul tyd, kennis en kundigheid met die Graad R-leerders gedeel het.
Die skool het ook sy Graad R-opvoeders en personeel bedank vir hul deeglike beplanning en ondersteuning, wat tot die sukses van die dag bygedra het. Die beroepsdag het die boodskap beklemtoon dat groot drome reeds op ‘n jong ouderdom begin.
Vir die Graad R-leerders was dit ‘n dag van leer, ontdekking en om hul verbeelding oor die toekoms vlerke te gee.





