Bergrivier-vereniging vir mense met gestremdhede gee mense hoop

Dylon Adams (links) saam met twee van die gereelde bywoners, Melanie Nortier en Anna Claassen.
Dylon Adams (links) saam met twee van die gereelde bywoners, Melanie Nortier en Anna Claassen.

Bergrivier-vereniging vir mense met gestremdhede gee mense hoop

Dylon Adams (links) saam met twee van die gereelde bywoners, Melanie Nortier en Anna Claassen.
Dylon Adams (links) saam met twee van die gereelde bywoners, Melanie Nortier en Anna Claassen.

VELDDRIF – Vir Dylon Adams is sy werk by die Bergrivier-vereniging vir mense met gestremdhede ‘n roeping om ‘n verskil te maak en te verseker dat mense met gestremdhede ook ‘n stem in die gemeenskap het.

Dié organisasie sonder winsoogmerk is in Kerkstraat geleë en bied ‘n ruimte waar mense met gestremdhede vaardighede kan aanleer, hul talente ontwikkel en die geleentheid kry om produktief te wees. Die dagsentrum is weeksdae van 08:00 tot 15:00 oop vir mense met gestremdhede tussen die ouderdom van 18 en 65 jaar. Hoewel die sentrum plek vir sowat 20 mense het, woon 14 die sentrum deesdae daagliks by.

Adams het in 2023 by die organisasie aangesluit – aanvanklik as ‘n halfdag-administratiewe beampte maar weens die werkslading het sy rol uitgebrei en hy beklee nou ‘n voltydse bestuurspos. “Jou gestremdheid definieer nie wie jy is nie. Daar is altyd iets wat jy kan doen, ongeag jou gestremdheid,” sê Adams.

Hy glo mense kry by die sentrum die kans om hul waarde te ontdek en met waardigheid behandel te word. “Ons werk elke dag met mense met verskillende gestremdhede. Die mooi ding is dat ons so baie by gestremde mense kan leer,” sê hy.

Vaardighede wat ‘n verskil maak

Mense word by die sentrum alles van naaldwerk en houtwerk tot sandstraalwerk geleer. Die dienste en produkte wat hier gelewer word, dien ook die breër gemeenskap.

Die wassery bied ‘n gerieflike diens aan inwoners wat hul wasgoed vir was en stryk kan aflaai. Die sentrum se winkel vir tweedehandse klere bied bekostigbare pryse terwyl skenkings van klere en huishoudelike items welkom is.

Agter die naaimasjien sorg Tannie Raychel dat klere ‘n tweede kans kry. Of dit nou ‘n nuwe ritssluiter, eenvoudige herstelwerk of ‘n kreatiewe oplossing vir ‘n gaatjie in ‘n kledingstuk is, sy pak die werk met vaardigheid aan.

Die sentrum se bywoners vervaardig ook verskeie produkte. Adams vertel met trots van braaivoorskote wat uit leer gemaak word, vuuraanstekers wat verpak word en opvoedkundige houtblokkies wat vir kleuterskole vervaardig word. Die gestremdes help ook om kunsprodukte vir Soul Moving Art (SMART) te verpak.

Gemeenskap se hulp benodig

Die sentrum benodig dringend nywerheidswasmasjiene en -tuimeldroërs, ‘n ekstra voertuig en ervare vaklui wat bereid is om hul kennis en praktiese ervaring te deel.

Adams wil ‘n modeparade te reël waarin die gestremdes as modelle optree en klere wat geskenk is, ten toon stel. Dié inisiatief sal die sentrum se klere­voorraad benut en gestremdes die kans gee om hulself op ‘n ander manier uit te druk. “Ons kan dit nie alleen doen nie en het die gemeenskap se hulp nodig,” sê Adams.

•  Navrae: WhatsApp na 077 364 9181.

LEES OOK: Gestremdes tem branders

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 22 October 2026
    Weslander E-Edition – 22 October 2026

Gift this article