Geen kriminele vervolging oor verstikdood by tehuis vir gestremdes

Die ou borde gaan binnekort verwyder word. Foto: Danie Hefers

Geen kriminele vervolging oor verstikdood by tehuis vir gestremdes


ST HELENABAAI – Die polisie het bevestig dat niemand in verband met die dood van Nicola Liebenberg (26), wat op 24 Mei vanjaar by die voormalige Eilandhuis vir Gestremdes in St. Helenabaai oorlede is, krimineel aangekla sal word nie.

Kapt. Tania Helfrich, Weskus-polisiewoordvoerder, sê ’n lykskouing het bevind Liebenberg se dood is veroorsaak deur verstikking weens toevallige versmoring. Volgens die verslag was daar geen tekens van geweld nie.

Helfrich sê hoewel getuienisverklarings nog bekom moet word, sal niemand in verband met Liebenberg se dood aangekla word nie.

Die polisie het intussen bevestig dat ’n afsonderlike aanrandingsaak wat op 21 Maart 2025 by die tehuis ontstaan het, steeds voortduur.

In dié saak word Charmaine Barends (54) daarvan beskuldig dat sy Liebenberg geklap het. Die saak is in die Vredenburg-landdroshof tot Woensdag 16 September uitgestel.

Volgens die polisie het Barends na bewering vir Liebenberg geklap nadat sy glo “stram” geword het.

Helfrich sê die ondersoekbeampte en takbevelvoerder kommunikeer gereeld met Liebenberg se ma, Sandra, oor die vordering van die ondersoek. Liebenberg het in ‘n onderhoud aan Weslander gesê sy meen nalatigheid het tot haar dogter se dood gelei.

Die polisie kon nie kommentaar lewer oor ’n moontlike parlementêre ondersoek nie.

Die jongste terugvoer oor Liebenberg se dood volg te midde van ’n regstryd rondom die tehuis, waaroor Weslander reeds verskeie kere berig het.

’n Anton Piller-bevel is op Vrydag 28 Augustus by die tehuis uitgevoer nadat ’n aansoek by die hof ingedien is vir die beslaglegging en bewaring van onder meer dokumente en mediese rekords.

Die bevel behels slegs bewerings en is nie ’n finale bevinding van oortreding of kriminele skuld nie. Die saak dien voorlopig weer op Woensdag 7 Oktober in die hof.

Intussen het Siyabonga Huis van Danksegging op 1 September amptelik die bestuur van die fasiliteit oorgeneem.

Volgens Chrisna du Plessis, uitvoerende hoof van Siyabonga Huis van Danksegging, staan die fasiliteit voortaan bekend as die St. Helenabaai residensiële sorgfasiliteit vir mense met gestremdhede.

Die tehuis is in 2005 deur Jimmy Duncan gestig. Hy is in Julie 2024 ná ’n kort siekte oorlede.

Du Plessis het aan Weslander gesê dat Siyabonga daarna uitsien om voort te gaan om gehalteversorging, waardigheid en ondersteuning aan mense met gestremdhede te bied.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 September 2026
    Weslander E-Edition – 10 September 2026

Gift this article