‘n Regstryd oor die bestuur en beweerde wanpraktyke by die versorgingstehuis in St Helenabaai is tans voor die hof.

Regstryd oor bewerings by tehuis vir gestremdes begin

‘n Regstryd oor die bestuur en beweerde wanpraktyke by die versorgingstehuis in St Helenabaai is tans voor die hof.

ST HELENABAAI – ‘n Regstryd is van stapel gestuur om Die Eiland Huis vir Gestremdes se raad te verwyder en beweerde oortreders aanspreeklik te hou vir gebeure by dié bekende versorgings- tehuis in die Midwest-woonbuurt.

Weslander het vroeër berig oor beweerde wanpraktyke by die tehuis en die kommer van ouers en verteenwoordigers oor die versorging en veiligheid van inwoners. Dit het tóé aan die lig gekom dat die tehuis se lisensie, om as gesondheidsorgverskaffer vir 2026 te funksioneer, nooit hernu is nie.

Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand het ook destyds dié skokkende stand van sake by Die Eiland Huis by navraag aan Weslander bevestig.

Bekommerde ouers en voogde van inwoners by die tehuis eis al geruime tyd dat die fasiliteit se raad onmiddellik uittree. Hulle beweer dat Die Eiland Huis se huidige bestuur en raadslede nie gekwalifiseer is om dit te bestuur nie, en dat die fasiliteit merkbaar agteruit gegaan het. Ouers was ook bekommerd oor die finansiële bestuur van Die Eiland Huis.

Beide die Wes-Kaapse Departemente van Maatskaplike Ontwikkeling en Gesondheid en Welstand het ook destyds by navraag bevestig dat hulle klagtes oor Die Eiland Huis ontvang het, waarna ‘n gesamentlike ondersoek uitgevoer is.

Die Eiland Huis is ‘n residensiële sorgfasiliteit vir individue met erge geestelike en fisieke gestremdhede. Dit is in 2005 deur Jimmy Duncan gestig. Hy is in Julie 2024 ná ‘n kort siekte oorlede. Volgens sy ouers het Duncan se dood ‘n beduidende leemte gelaat.

Weslander het ook destyds Die Eiland Huis vir kommentaar oor die ouers en voogde se aantygings en bewerings genader. Die tehuis se raad het toe verkies om met ‘n prokureursbrief te reageer.

“Om die privaatheid en waardigheid van inwoners en personeel te beskerm, is ons kliënt nie in ‘n posisie om persoonlike mediese besonderhede van enige individu met derde partye of die media te bespreek nie.

“Ons kliënt is nie van plan om op elke bewering of paragraaf in jul brief te reageer nie en dit moenie enigsins as erkenning van skuld aan enige van die bewerings vertolk word nie.”

Dit blyk dat die partye nou gereed is vir ‘n moontlik lang en duur hofsaak.

Volgens die ouers en verteenwoordigers is bewyse sedertdien ingesamel en beëdigde verklarings onder meer verkry, waarna ‘n aansoek by die hof inge- dien is vir beslaglegging op en bewaring van onder meer dokumente en mediese rekords by die tehuis. Dié bevel is einde verlede maand deur regter E. D. Wille toegestaan met ‘n Anton Piller-bevel, en is op Vrydag 28 Augustus by die perseel in Midwest uitgevoer. Dié betrokke bevel behels egter slegs bewerings met geen finale bevinding van oortreding of kri- minele skuld mie.

Die saak sal nou weer op Woensdag 7 Oktober in die hof dien. ‘n Geldinsamelingsveldtog is ook intussen deur ván die ouers en verteenwoordigers begin om onder meer regskoste te dek.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 3 September 2026
    Weslander E-Edition – 3 September 2026

Gift this article