VREDENBURG – Van sy kinderjare in Distrik Ses en ‘n skoolloopbaan wat vroeg tot ‘n einde gekom het, tot ‘n loopbaan by die Stad Kaapstad en jare lange diens aan sy gemeenskap, is Sammy Springleer se lewensverhaal een van geloof, genade en deursettingsvermoë.
Dié Vredenburgse inwoner het onlangs sy memoir, Ebenezer: Thus far the Lord has helped me, geskryf. Daarin vertel hy openhartig van die hoogtepunte en laagtepunte wat sy lewe gevorm het.
Die idee vir die boek het ontstaan nadat hy by ‘n nuwe kerk in Vredenburg aangesluit het. Die pastoor het hom uitgevra oor sy agtergrond en voorgestel dat hy sy lewensverhaal neerskryf. “Ek het eers gedink dis belaglik, want wie sal nou in my storie belangstel?” vertel hy.
Nadat nog iemand belangstelling in sy verhaal getoon het, het Springleer besluit om sy herinneringe neer te pen.
Die memoir neem lesers van sy kinderjare in Distrik Ses, sy gesin se gedwonge verskuiwing na Hanoverpark, sy blootstelling aan die verkeerde invloed en dwelms tot sy bekering, loopbaan en gemeenskapswerk.

Vir Springleer beteken Ebenezer ‘n herinnering dat die Here hom tot hier met alles gehelp het – “dat God jou storie kan gebruik ten spyte van nederige begin”, sê hy. “Waar jy jou ook al bevind, sit jou beste in – ‘do everything as unto the Lord’.”
‘n Lewe wat deur geloof verander is
Springleer was nog jonk toe sy gesin weens die Groepsgebiedewet uit Distrik Ses verskuif is. “As kind was ek te jonk om te verstaan en daarom het ek dit maar as deel van ‘n nuwe avontuur aanvaar. Ek het nie die politiek agter die Groepsgebiedewet begryp nie,” sê hy.
Sy tienerjare het hom later aan die verkeerde invloed blootgestel. Dit was egter ‘n ernstige siekte van sy ma wat volgens hom ‘n keerpunt in sy lewe geword het.
Nadat hy en sy suster van die hospi- taal af teruggekeer het nadat hulle van hul ma afskeid geneem het, het Springleer moedeloos geraak en besluit om hom op die Here te beroep.
Sy ma het kort daarna onverwags herstel. “Ek het eerstehandse ondervinding van God se wonderwerke beleef!” sê hy.
Van straatveër tot senior superintendent
Springleer se loopbaan by die Stad Kaapstad het nederig begin, maar hy het die leer geklim en uiteindelik ‘n senior superintendent geword.
Een van sy loopbaanhoogtepunte was sy deelname aan ‘n kursus by die Stellenbosch-sakeskool. Hy was een van slegs 6 uit 27 deelnemers wat die kursus suksesvol voltooi het. “Hier kom ek met my minderwaardige akademiese kwalifikasies en bemeester die kursus,” sê hy.
Sy werksprestasies het later tot die jaarlikse Sammy Springleer-prys gelei, wat vir uitsonderlike prestasie aan depots toegeken word.
‘n Nuwe roeping
Ná sy aftrede het Springleer hom toenemend aan gemeenskapsdiens in Vredenburg gewy.
Sy betrokkenheid sluit onder meer hulp aan hawelose mense, gemeenskapsveiligheid en ondersteuning aan behoeftiges in.
Die dood van ‘n hawelose man, Kyle Dodd, het hom egter diep geraak.
Springleer het Dodd gereeld gesien en bemoedig. Een dag was hy haastig en het besluit om nie te stop nie, met die voorneme om later terug te keer. Dodd is egter op pad hospitaal toe oorlede. “Ek het gevoel sy lewe kon gered gewees het as ek gestop en gehelp het,” sê hy.
Dié ervaring het hom aangespoor om homself meer beskikbaar te stel waar die nood druk.
Wanneer Springleer vandag op sy lewe terugkyk, is hy dankbaar vir sy familie, sy vrou se ondersteuning en, bo alles, sy geloof.
“Ek besef dat die hand van die Here my deur al my wedervaringe bewaar en gelei het,” vertel hy.
Vir hom is die memoir daarom meer as ‘n lewensverhaal – dit is ‘n getuienis van waar hy vandaan kom, die foute wat hy gemaak het en die geloof wat hom deur alles gedra het.
As jy belangstel om die boek aan te skaf, bel Springleer by 065 095 4318.





You must be logged in to post a comment.