Ma eis antwoorde vir gestremde dogter se verstikdood in tehuis

Sandra Liebenberg by haar oorlede dogter Nicola.

Ma eis antwoorde vir gestremde dogter se verstikdood in tehuis


ST HELENABAAI – “Ek sit nog met baie vrae.”
Só sê Sandra Liebenberg, ma van die 26 jarige Nicola Liebenberg, wat op Sondag 24 Mei by die Eilandhuis vir gestremdes oorlede is nadat sy aan ’n Russiese worsie verstik het.

Sandra sê Suster Maritza Beukes het haar dié Sondagoggend gebel en gevra om na Eilandhuis te kom omdat daar ’n voorval met Nicola was. Toe sy vra wat gebeur het, is sy meegedeel dat haar dogter oorlede is.

Met haar aankoms het ‘n sersant aan haar verduidelik dat Nicola aan ’n Russiese worsie verstik het. ’n Versorger het glo Nicola se kos voor haar neergesit. Nicola het glo met haar rug na die ander toe gesit en geëet. Volgens wat aan Sandra vertel is, het die betrokke versorger na bewering Nicola sonder toesig gelaat om na ’n ander inwoner om te sien. Nicola wou glo self eet.

Met die versorger se terugkeer was Nicola volgens wat aan Sandra oorgedra is, reeds blou en het sy nie asem gehaal nie. Die versorger het glo gesê die worsie was in skyfies gesny, maar Sandra sê Nicola kon nie self kou of hoes nie, het moeilik gesluk en haar kos moes fyngemaak word.

Volgens haar was die versorgers hiervan bewus. “In my opinie was die hele voorval nalatig.”

Sandra werk sedertdien deur ’n prokureur om die nadoodse ondersoekverslag en kringtelevisiebeeldmateriaal te bekom. Sy beweer sy het nog geen terugvoer van die polisie oor Nicola se dood ontvang nie en weet nie of die saak verder ondersoek is nie.

Sy het die polisie gevra om verklarings van ander versorgers te bekom wat volgens haar ook ten tyde van die voorval in die vertrek was, maar sê sy weet nie of dit gedoen is nie.

Die polisie het intussen bevestig dat niemand krimineel vir Nicola se dood aangekla gaan word nie.

Die gebeure volg op kommer rondom die bestuur by Eilandhuis, waaroor Weslander al verskeie kere berig het.

Volgens Sandra het sy al in Maart vanjaar ’n saak teen die Eilandhuis by die Menseregtekommissie aanhangig gemaak. Sy beweer verder dat Nicola oor ’n tydperk geviktimiseer, van haar menseregte ontneem en, na Sandra se mening, mishandel is.

Sandra meen die kommissie is ondersteunend en aktief besig met die saak. Die Departement van Gesondheid ondersoek dit ook volgens haar.

Verder is daar ’n saak teen Eilandhuis in die Hooggeregshof in Kaapstad oor verskeie aantygings teen die instelling. Volgens Sandra ontken Eilandhuis in dié stukke dat Nicola geviktimiseer of mishandel is, asook dat haar dood as gevolg van nalatigheid was.

’n Strafsaak waarin ’n versorger daarvan beskuldig word dat Nicola in Maart 2025 aangerand is, duur volgens Sandra steeds in die Vredenburg-landdroshof voort.

Verhaal begin lank voor die hofsake

Nicola is op 27 weke gebore en het van haar eerste dae af om haar lewe geveg. Sy was fisiek en verstandelik gestremd, het ’n rolstoel gebruik en was volledig van versorging afhanklik. “Sy was ons engelkind,” sê Sandra.

Nicola het volgens Sandra ’n onskuldige kinderhart gehad. Klein dingetjies het haar laat lag, en sy het ander met haar persoonlikheid vermaak. Sy was lief vir musiek, om in haar rolstoel te dans, en mal oor handsakke, hoede, donkerbrille, horlosies en uitstappies saam met haar familie.

Sandra beskryf haar as saggeaard en liefdevol, maar ook as die familie se “glamour girl”.

Nicola se dood laat ’n groot leemte by Sandra en Nicola se tweelingsuster, Anneke. Sandra sê sy wil hê haar dogter se lewe moet geëer word en dat diegene wat volgens haar tot Nicola se moeilike laaste jaar bygedra het, aanspreeklik gehou moet word. “Dit kan net nooit geïgnoreer en daar gelaat word nie.”

By Nicola se gedenkdiens het Sandra haar dogter gegroet met die woorde: “Rus sag my liefste Engelkind. Rus sag.”

Vir Sandra en Anneke bly die troos dat Nicola, soos Sandra dit stel, nou “in Jesus se veilige arms rus”.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 September 2026
    Weslander E-Edition – 10 September 2026

Gift this article