‘n Voorstelling van ‘n waterstofaanleg. Foto: Renewable Energy News

Kom sê jou sê oor dié projek


Kommer broei steeds oor ‘n omstrede multimiljardrandse brandstofaanleg en reuse-sonplaas wat by Hopefield beplan word.

‘n Openbare vergadering om die projek te bespreek, vind volgende week in die dorp plaas en selfs inwoners van omliggende dorpe, soos Saldanha en Vredenburg, het reeds aangedui hulle gaan dit bywoon.

Die Phelan Green-groep van Kaapstad beplan ‘n brandstof-verwerkingsaanleg van byna R50-miljard vir die vervaardiging van tonne elektro-volhoubare lugvaartbrandstof (eFUEL), wat blykbaar per pad na die Saldanhahawe vervoer sal word, vir uitvoer na onder meer Europese lande.

André Truter, die voormalige burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, wat intussen Hopefield toe verhuis het, is in ‘n bestuurshoedanig­heid by dié projek betrokke.

Die projek kry egter reeds vanuit verskeie oorde die wind van voor.

Die bekende omgewingsdrukgroep Protect the West Coast het reeds sy kommer uitgespreek oor dié beoogde projek op Hopefield se voorstoep en meen plaaslike opofferings vir Hopefield kan “ongelooflik groot wees” weens die spesifieke ligging van die beoogde brandstofaanleg, wat volgens dié bewa­ringsgroep “hoogs omstrede” is.

Protect the West Coast is veral bekommerd oor die kumulatiewe uitwerking wat mynbou-en nywerheidsaktiwiteite in die Weskus het en meen die beoogde projek hou moontlike bedreigings in vir onder meer die gebied se seldsame inheemse plantegroei.

Die Weskus-omgewingsbewarings-­vereniging (Woba) meen ook die beoogde ontwikkeling gaan ‘n invloed op die hele Weskus hê – nie net op Hopefield nie.

“Die blote feit dat ‘n foutiewe persepsie bestaan dat die ontwikkeling slegs ‘n uitwerking op Hopefield gaan hê, is op sigself ‘n aanduiding dat onvoldoende openbare deelname plaasgevind het.”

Volgens Nicola Viljoen, die voorsitter van Woba, is die beoogde vergadering vir aanstaande Woensdag (24 Junie) om 18:30 by die Commercial-hotel in die dorp oop vir almal wat meer inligting oor die voorgestelde nywerheidsontwikkeling verlang om sodoende ‘n meer ingeligte besluit oor die projek te kan neem.

“Die vergadering gaan oor die statutêre prosesse (vir die verskillende aansoeke) wat Phelan moet volg om goedkeuring vir die voorgestelde projek te kry, die moontlike uitwerking wat deur Woba se kundiges geïdentifiseer is, hoe die openbaredeelnameproses werk en hoe die mense van die Weskus konstruktief betrokke kan raak.”

Volgens Viljoen het ‘n onlangse pla­sing op sosiale media oor die beoogde brandstofaanleg daartoe gelei dat ‘n groot aantal mense, wat baie bekommerd is oor die projek, na Woba uitgereik het.

“Woba is dankbaar vir die bewusma­king oor die projek en die bekommer­nisse oor die moontlike uitwerking, wat deur verskeie lede van die publiek geopper is, sal gedurende die vergade­ring bespreek word.”

Belangstellendes kan Woba by 072 297 2222 vir nog inligting oor die ­beplande vergadering volgende week kontak.

• Weslander het die Phelan Green-groep in Kaapstad reeds op 9 Junie per e-pos genader vir kommentaar oor die beoogde projek, maar het steeds geen terug­voer ontvang nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 June 2026
    Weslander E-Edition – 18 June 2026

Gift this article