Die stryd tussen Saldanha en Young Hearts in die eerste ronde is net-net deur die Saldanhabaai-rugbyklub beklink. Foto: Deon Julies

Tweede ronde hier

Die stryd tussen Saldanha en Young Hearts in die eerste ronde is net-net deur die Saldanhabaai-rugbyklub beklink. Foto: Deon Julies

Die Weskus-Grootuitdaagbekerspanne is slaggereed vir die tweederondewed­stryde wat Saterdag (20 Junie) op die verskillende Weskus-dorpe se sportterreine afskop. Nadat die verdedigende kampioen, Saldanhabaai, op 30 Mei sy rieme teen St. Helenabaai styfgeloop het, bly hy steeds die voorloper met twee punte bo Vredenburg.

Die tweede ronde beloof taai en harder as die eerste ronde te wees en onder­steuners kan hulle gereed maak vir ‘n opwindende einde in die reeks, wat hom oor die volgende 14 weke in die Weskus sal afspeel.

Vir St. Helenabaai (derde) met 39 punte, Velddrif (vierde) en Paternoster (vyfde met 37 punte elk) en Young Hearts op 34 punte, is niks verlore nie en kan die voorlopers met goeie spel ingehaal word. Saldanhabaai en Vredenburg kan hulle gereed maak vir klipharde wedstryde teen hul teenstanders in die weke wat voorlê.

St. Helenabaai is die enigste span wat beide voorlopers al pakgegee het. Eers het hy op 9 Mei met Vredenburg afgere­ken toe hy met 37-24 op Albatrospark geseëvier het, en drie weke daarna (op 30 Mei) die “ontmoontlike” vermag deur Saldanha, wat onoorwinlik gelyk het, se onoorwonne status met ‘n oorwinning van 25-23 te breek. Hierdie oorwinning het die Albatrosse se aansien versterk en hulle weer terug in die wedloop gebring.

Met ‘n agterstand van nege punte teen­oor die tweede geplaasde Vredenburg en 11 punte teenoor Saldanhabaai, is dit nie ontmoontlik om die voorlopers in te haal of verby te steek nie, maar dan sal die spanne wat agter is, koelkop moet bly en nie onnodige foute begaan nie, want dit is waar hulle op Saldanha en Vredenburg te kort geskiet het.

Vir dié spanne bied die tweede ronde ‘n nuwe kans om momentum te bou. Diegene wat hul geleenthede benut en onder druk presteer, kan van ‘n suksesvolle 2026-uitspeelronde gewaarborg wees.

Rugbyliefhebbers kan gewis ‘n spannende einde vol drama in die Weskus-Grootuitdaagbeker se tweede-ronde­wedstryde verwag.

Die wedstrydbepalings vir Saterdag 20 Junie:

Weskus

Saldanha Tigers t. Saldanhabaai; Steenberg Cove t. Vredenburg; Goedverwacht t. St. Helenabaai; Piketberg t. Velddrif; Hopefield t. Young Hearts; en Langebaan t. Paternoster.

Swartland

Koringberg t. Wesbank; Riebeeck United t. Abbotsdale; Mamre t. Moorreesburg; Darling t. Saron; Good Hopes t. Porterville; en Never Despair t. Villagers Wittewater.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 June 2026
    Weslander E-Edition – 18 June 2026

Gift this article