Jou stem is meer as net 'n kruisie.
Jou stem is meer as net ‘n kruisie.

SALDANHA | LANGEBAAN – Inwoners in Saldanha en Langebaan kry weer môre (Woensdag, 22 April) ’n gulde kans om hulle persoonlike keuses te maak vir ’n nuwe wyksraadslid.

Met een kruisie kan kiesers in wyke 5 en 6 in die Saldanhabaai- munisipale gebied (SBM) bepaal wie hulle op plaaslike regeringsvlak gaan verteenwoordig en dien as ’n belangrike skakel tussen die gemeenskap en die munisipale raad.

Die twee wyke is voorheen deur twee senior politieke figure in die Weskus as raadslede in die SBM verteenwoordig.

Die munisipaliteit se DA-burgemeester, André Truter (wyk 5 in Saldanha), het egter skielik bedank en die private sektor betree, terwyl die onderburgemeester, Charmaine Laubscher (wyk 6 in Langebaan), die DA vir die PA verruil het. Beide was ervare raadslede in plaaslike politiek en hulle besluite het skokgolwe deur die Weskus gestuur.

Stembusse vir dié belangrike munisipale tussenverkiesing open Woensdagoggend om 07:00 en sluit om 22:00.
Stemlokale is by die Dial Rock-saal in Albatrosstraat, Saldanha, en by die Togryersvlei-saal buite Jacobsbaai vir Wyk 5, en by die Langebaan-stadsaal in Breëstraat, Langebaan, vir Wyk 6.

Dié twee wyke het gesamentlik 9 656 geregistreerde kiesers.

Weslander wou by al die betrokke kandidate hoor hoekom kiesers vir hulle, en die party wat hulle verteenwoordig, moet stem. (Kandidate se kommentaar is in hulle eie woorde en sommiges is verkort of vertaal waar nodig.)

Wyk 5 Saldanha

Leonie Vorster - Onafhanklik
Leonie Vorster – Onafhanklik

***LEONIE VORSTER (Onafhanklike kandidaat vir Wyk 5).

Ek staan as ’n onafhanklike wyksraadslid omdat ek glo Saldanha verdien leierskap wat ons dorp, ons mense en ons toekoms eerste stel. Vir te lank kyk ons hoe geleenthede by ons verbygaan terwyl basiese dinge soos veilige sypaadjies, netjiese openbare ruimtes en die bevordering van toerisme afgeskeep word.

Terselfdertyd het ek Projek Saldanha begin omdat werklike verandering nie net in raadsale gebeur nie, maar ook wanneer ’n gemeenskap trots raak op die plek waar hulle woon.

Suritha du Plessis - DA
Suritha du Plessis – DA

***SURITHA DU PLESSIS (DA-kandidaat in Wyk 5).

Ek dink die belangrikste boodskap wat ek wil oordra, is dat ek al 50 jaar ’n inwoner van Saldanha is. My wortels en lewe lê diep gevestig hier. Ek is ’n trotse oudleerling van Saldanha Laerskool en Vredenburg Hoërskool. Ek het ’n passie vir die Weskus en hoewel ek die grootste deel van my lewe in die privaat sektor as finansiële en menslike hulpbronbestuurder gewerk het, was ek nog altyd betrokke waar ek ’n verskil in mense se lewens kon maak.

Ek is reeds vir baie jare as aktivis betrokke by die politiek en veral die DA. Ek en die DA dink en werk dieselfde, met dieselfde beginsels en waardes. Ons glo daaraan om dinge reg en volgens die wet te doen, met integriteit en nie vir eie belang nie, maar ten bate van almal vir wie ons werk.

Lynette Grobler - PA
Lynette Grobler – PA

***LYNETTE GROBLER (PA-kandidaat in Wyk 5).

Kiesers behoort die Patriotic Alliance (PA) te ondersteun omdat ons ’n party is wat mense eerste stel, prakties, teenwoordig en toegewyd tot werklike dienslewering. As die PA-kandidaat vir Wyk 5 in Saldanhabaai is my fokus eenvoudig, om elke inwoner met regverdigheid, aanspreeklikheid en konsekwentheid te dien, ongeag agtergrond.

Wyk 5 verdien leierskap wat sigbaar, prakties en oplossingsgedrewe is. Die PA staan vir veilige gemeenskappe, skoon omgewings, werksgeleenthede en waardigheid vir almal. Ons is ’n multikulturele en inklusiewe party, verenig deur een doel, om sterker gemeenskappe te bou en ’n beter toekoms vir ons mense te skep.

Ek is daartoe verbind om toeganklik te wees, na die bekommernisse van inwoners te luister en daagliks te werk om betekenisvolle verandering in Wyk 5 te bring. Saam kan ons ons wyk laat groei, Saldanhabaai versterk en bydra tot ’n voorspoedige Suid-Afrika.

Wyk 6 Langebaan

Gilbert Nortier - VF+
Gilbert Nortier – VF+

***GILBERT NORTIER (VF+-kandidaat in Wyk 6).

My passie en visie vir Wyk 6, Langebaan:

  1. Verseker ’n volhoubare wyk vir nou en vir die toekoms.
  2. Verseker dat alle prosesse behoorlik bestuur word, byvoorbeeld deursigtigheid, aanspreeklikheid en insluiting van die relevante partye.
  3. Veiligheid: raak betrokke by gemeenskapspolisiëring en buurtwagprogramme.
  4. Ondersteun plaaslike besighede.
  5. Verseker betroubare infrastruktuur, naamlik paaie, voetpaaie, water, elektrisiteit, beligting en openbare ruimtes.
  6. Doeltreffende en vinnige plaaslike dienslewering.
  7. Inwoners: terugvoer, tydige reaksie, begrotingsdeursigtigheid en openheid.
  8. Ek sal ’n sigbare en aanspreeklike raadslid wees.

Ek is passievol oor betroubare infrastruktuur wat slegs bereik kan word deur ’n gekwalifiseerde persoon met die regte agtergrond en wat betrokke was by infrastruktuur-instandhoudingsprogramme en projekbestuur.

Adriaan Groenewald -DA
Adriaan Groenewald -DA

***ADRIAAN GROENEWALD (DA-kandidaat in Wyk 6).

Kiesers behoort vir Adriaan Groenewald en die Demokratiese Alliansie te stem omdat hy hom ná die verkiesing sal verbind tot verantwoordbare, deursigtige en diensgerigte leierskap in Wyk 6.

Adriaan verstaan die plaaslike uitdagings en is daartoe verbind om praktiese, volhoubare oplossings te dryf wat werklik ’n verskil maak in inwoners se daaglikse lewens. Sy fokus is op betroubare dienslewering, beter infrastruktuur, veilige gemeenskappe en die bevordering van ekonomiese geleenthede vir almal.

As verteenwoordiger van die Demokratiese Alliansie staan hy vir goeie bestuur, aanspreeklikheid en die doeltreffende gebruik van openbare en natuurlike hulpbronne. Hy glo daarin om aktief na die gemeenskap te luister, samewerking te bevorder en seker te maak dat elke stem gehoor word.

Deur vir Adriaan te stem, kies inwoners ’n kandidaat wat integriteit, toewyding en ’n duidelike visie vir die toekoms na Wyk 6 in Langebaan bring, ’n wyk wat werk vir almal.

Bilkys Ismail -
Bilkys Ismail – Truth Party
Faizel Ismail - Truth Party
Faizel Ismail – Truth Party

***BILKYS ISMAIL (Truth Party-kandidaat in Wyk 5) en FAIZEL ISMAIL (Truth Party-kandidaat in Wyk 6).

In wyke 5 en 6 van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) staar baie gemeenskappe steeds aanhoudende sosio-ekonomiese uitdagings in die gesig, ten spyte van die gebied se ekonomiese potensiaal. Groot getalle inwoners, veral dié in informele nedersettings en agterplaaswonings, leef met oorbevolking, onvoldoende behuising en swak sanitasie, insluitend onwaardige stelsels wat gesondheid en basiese menswaardigheid in gedrang bring. Vir te lank het politieke partye wat Saldanhabaai regeer, beloftes aan hierdie gemeenskappe verbreek en verkiesings gereduseer tot korttermyn-uitdeelstukke soos kospakkies en T-hemde, terwyl volhoubare verandering nie gelewer word nie.

Dit is binne hierdie konteks dat twee toegewyde kandidate, Bilkys Ismail, wat die Truth Party in Wyk 5 verteenwoordig, en Faizel Ismail, wat Wyk 6 verteenwoordig, na vore tree met sterk bestuurs- en eiendomssektor-ervaring wat onder die Truth Party opgedoen is.

Gedryf deur sigbare armoede en ’n gebrek aan aanspreeklikheid, poog hulle nie net om die munisipaliteit aanspreeklik te hou vir dienslewering nie, maar ook om praktiese oplossings te implementeer, met prioriteit aan waardige lewensomstandighede, die uitwissing van onveilige sanitasie en werkskepping deur behuisingsontwikkelingsprojekte.

Hulle is verder daartoe verbind om plaaslike gemeenskappe te bemagtig deur toegang tot tendergeleenthede oop te stel, te verseker dat plaaslike mense direk by ontwikkeling baat vind, en deur kritieke vaardighede aan werklose jeug oor te dra om hoop te herstel en selfstandigheid te bou. Met erkenning van die diep sosiale impak van middelmisbruik, sal hulle pleit vir strenger beheer en die uitskakeling van alkoholverkope binne woongebiede, en sodoende die siklus van alkohol- en dwelmafhanklikheid aanspreek wat kwesbare gemeenskappe vasvang en vooruitgang ondermyn.

Kiesers word intussen aangemoedig om hul stemreg te gebruik en ’n direkte sê te hê oor die leierskap en toekoms van hul gemeenskappe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article