Altesaam 9 656 geregistreerde kiesers kon gister (Woensdag, 22 April) ‘n gulde kans gebruik om hul persoonlike keuses vir ‘n nuwe wykraadslid te maak.

‘n Tussenverkiesing is in Wyke 5 en 6 in die Saldanhabaai- munisipale gebied (SBM) gehou om twee nuwe raadslede te kies.

Die munisipaliteit se DA-burgemeester, André Truter (Wyk 5 in Saldanha), het vroeër vanjaar skielik bedank en die private sektor betree, terwyl die onderburgemeester, Charmaine Laubscher (Wyk 6 in Langebaan), die DA vir die PA verruil het. Albei was ervare raadslede in plaaslike politiek en hul besluite het skokgolwe deur die Weskus gestuur.

Weslander het by die betrokke kandidate gehoor hoekom kiesers vir hulle, en die party wat hulle verteenwoordig, moes gestem het.

Wyk 5 Saldanha

• Leonie Vorster (Onafhanklike kandidaat vir Wyk 5).

Ek staan as ‘n onafhanklike wykraadslid omdat Saldanha leierskap verdien wat die dorp, sy mense en sy toekoms eerste stel. Te lank gaan geleenthede by ons verby terwyl basiese sake soos veilige sypaadjies, netjiese openbare ruimtes en toerismeontwikkeling agterweë bly. Daarom het ek ook Projek Saldanha begin, want werklike verandering gebeur nie net in raadsale nie, maar wanneer ‘n gemeenskap weer trots raak op waar hulle woon.

• Suritha du Plessis (DA-kandidaat in Wyk 5).

Ek het ‘n passie vir die Weskus en, hoewel ek die grootste deel van my loopbaan in die private sektor as finansiële- en menslikehulpbronbestuurder gewerk het, was ek nog altyd betrokke waar ek ‘n verskil in mense se lewe kon maak. Ek is al jare lank as aktivis betrokke by die politiek en die DA, met wie ek sterk identifiseer in beginsels en waardes. Ons glo daaraan om dinge reg, wetlik en met integriteit te doen, nie vir eie belang nie, maar tot voordeel van die gemeenskap wat ons dien.

• Lynette Grobler (PA-kandidaat in Wyk 5).

Kiesers behoort die PA te ondersteun omdat ons mense eerste stel en ons toewyding lê in werklike dienslewering. My fokus is om elke inwoner regverdig, aanspreeklik en konsekwent te dien, ongeag agtergrond. Wyk 5 verdien leierskap wat sigbaar, prakties en oplos-

singsgedrewe is. Die PA staan vir veilige gemeenskappe, skoon omgewings, werksgeleenthede en waardigheid vir almal. Ek verbind my daartoe om toeganklik te wees, na inwoners se bekommernisse te luister en tasbare verandering te bring.

Wyk 6 Langebaan

• Gilbert Nortier (VF+-kandidaat in Wyk 6).

Ek sal ‘n sigbare en aanspreeklike raadslid wees met ‘n passie vir Wyk 6, Langebaan, en die bou van ‘n volhoubare en funksionele wyk. Dit behels deursigtige bestuur met klem op aanspreeklikheid en die insluiting van alle rolspelers. Veiligheid is ‘n prioriteit, met betrokkenheid by gemeenskapspolisiëring en buurtwagte. Ek wil plaaslike ondernemings ondersteun en bydra tot betroubare infrastruktuur soos paaie, voetpaaie, water, elektrisiteit, beligting en openbare ruimtes. Vinnige dienslewering, oop kommunikasie, tydige terugvoer en begrotingsdeursigtigheid is noodsaaklik.

• Adriaan Groenewald (DA-kandidaat in Wyk 6).

Kiesers behoort vir my en die DA te stem omdat ons verbind is tot verantwoordbare, deursigtige en diensgerigte leierskap. Ons verstaan die plaaslike uitdagings en soek praktiese, volhoubare oplossings. Die fokus is op betroubare dienslewering, beter infrastruktuur, veilige gemeenskappe en ekonomiese ge- leenthede vir almal. Ons glo daarin om na die gemeenskap te luister, samewerking te bevorder en te verseker dat elke stem gehoor word.

• Bilkys Ismail (Truth Party-kandidaat in Wyk 5) en Faizel Ismail (Truth Party-kandidaat in Wyk 6).

In Wyke 5 en 6 van die Saldanhabaai-munisipaliteit word gemeenskappe deur ernstige sosiaal-ekonomiese uitdagings in die gesig gestaar. Baie inwoners leef met oorbevolking, swak behuising en onvoldoende sanitasie wat menswaardigheid en gesondheid beïnvloed. Vir te lank is beloftes nie nagekom nie, met min volhoubare verandering. In hierdie konteks tree Bilkys Ismail (Wyk 5) en Faizel Ismail (Wyk 6) van die Truth Party na vore met ervaring in bestuur en die eiendomsektor. Hulle fokus is op praktiese oplossings, beter lewensomstandighede, die aanspreek van sanitasie-uitdagings en werkskepping deur ontwikkeling en gemeenskapsbemagtiging.

Hou weslander.co.za én ons Facebook-blad vandag en môre dop om te sien hoe kiesers hul stemreg gebruik het om te sê oor die leierskap.

Faizel Ismail – Truth Party
Gilbert Nortier – VF+
Leonie Vorster – Onafhanklik
Adriaan Groenewald -DA
Lynette Grobler – PA
Suritha du Plessis – DA
dummy text

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article