Klein misdade en aanvalle op leerders is besig om ‘n kopseer in die Weskus te raak.
Onlangs is nog tieners in Vredenburg aangeval, na bewering deur ander leerders van die dorp.
Chantelle le Roux, ouer van een van die tieners, het met Weslander gedeel dat haar seun elke oggend die gimnasium bywoon. Op pad skool toe het hy en sy vriend deur die parkeergebied van die Ipic-sentrum gestap toe hulle deur drie leerders aangeval is. “My seun is van agter af geruk, hy is op die teer neergegooi, sy hemp geskeur en hy is geslaan. Hulle het die vriend wat saam met hom was, se fiets en foon probeer roof, so ons vermoed die hele doel was om hul fone te vat.
“Dit was ‘n baie traumatisie ervaring vir hom.
Om die oproep van haar seun te kry met die woorde “Mamma, ek is aangerand op pad skool toe” is nie die woorde wat Le Roux verwag het nie.
“Dinge kon baie erger gewees het, en ek is dankbaar dit was nie. Wat as hulle ‘n mes gehad het? Wat sou die kinders in so ‘n situasie kon doen?
“Dit is regtig skrikwekkend om te weet jou kind is nie veilig nie, al stap hulle in groepe,” meen Le Roux.
Sy sal graag wil sien dat die verantwoordelikes vasgetrek word sodat hulle kan besef dit wat hulle doen is verkeerd. “Hulle skep ‘n situasie wat dit vir almal onsmaaklik maak. ‘n Mate van gemeenskapsdiens kan dalk help om hulle tot besinning te bring. Miskien moet daar ook meer seku- riteit wees en meer kameras in die gebied. ‘n Mens moet eintlik die kinders probeer help, en hulle moet kan onderskei tussen wat reg en verkeerd is.”
In Februarie 2022 is Felicia Adams, ‘n inwoner van Vredenburg, se seun wat destyds in gr. 9 was, ook ná skool van sy selfoon beroof.
“Alles het binne 10 minute gebeur. Die een oomblik het my kind nog vir my laat weet hy is op pad oefenveld toe en die volgende kry ek die oproep dat hy beroof is. Dit was ‘n nagmerrie, want my kind ken nie sulke dinge nie, hy gaan net skool toe en huis toe.
“Dit was ook sy eerste jaar in ‘n nuwe skool. Was dit nie vir die Here nie, kan ek my nie indink wat kon gebeur het nie,” vertel Adams.
Adams sê die nuus van die voorval het haar groot laat skrik. “Ek wil nooit weer so voel nie. Iemand wat my ken, het my later die aand gekontak en my ingelig dat sy nie geweet het dis my kind nie, en dat daar ‘n video is.
“Toe ek dit sien, en sien hoe die jongman die mes uitruk en my seun dreig, kon ek inmekaar sak. Hoe doen ‘n mens dit aan ‘n skoolkind?”
Joey Pieters, koördineerder van die Saldanhabaai-veiligheidsinisiatief, doen ‘n ernstige beroep op alle gemeenskappe, ouers, skole en leerders om waaksaam te wees te midde van toenemende voorvalle waarin skoolgaande kinders beroof word onderweg na en van skole.
“Dit is van kardinale belang dat ons as gemeenskap saamstaan om hul veiligheid te verseker.”
Hy deel die volgende wenke:
Stap in groepe en vermy dit om alleen te beweeg, bly bewus van jou omgewing en vermy afleidings soos selfone en oorfone, hou waardevolle artikels soos selfone en geld buite sig, gebruik besige en bekende roetes en vermy afgesonderde gebiede of kortpaaie, en indien jy bedreig word, moenie weerstand bied nie, gee die artikels oor en kry onmiddellik hulp.
Die oproep aan ouers en voogde is om seker te maak dat kinders basiese veiligheidsmaatreëls verstaan, waar moontlik te reël dat hulle saam met ander stap, en om kommunikasie oop te hou deur hul aankoms by die huis of skool te bevestig.
Die oproep aan die gemeenskap is om sigbaar en waaksaam te wees gedurende skooltye, verdagte gedrag onmiddellik by die naaste owerhede aan te meld, en plaaslike veiligheidstrukture en inisiatiewe te ondersteun.
“Saam kan ons veiliger gemeenskappe bou,” voeg Pieters by.



