Na die afhandeling van die vier ligawedstryde die pas afgelope naweek (Saterdag 28 Maart) van die Weskusstreek se Grootuitdaagbeker, is dit nou net die verdedigende kampioen, Saldanhabaai en Vredenburg se “Burg Boys”, wat nog onoorwonne is.
St. Helenabaai se Albatrosse is hul onoorwonne status kwyt nadat hulle hul vasgeloop het teen ‘n begeesterde Langebaan-span wat die Albatrosse in Langebaan met 27-24 geklop het. Met dié oorwinning het Langebaan een posisie opgeskuif, van agtste na die sewende plek, wat gewys het hulle is aan die verbeter.
Dit is die Albatrosse se eerste nederlaag in vier wedstryde, en ‘n bitter pil om te sluk. Dit raak geensins hul derde plek in die liga nie, maar vergroot die gaping tussen hulle en die voorlopers.
In Hopefield het Vredenburg Burg Boys die tuisspan, Hopefield, met 46-30 verslaan. Teen ‘n gemiddelde van 71.50 per wedstryd gee hulle die tempo aan, en beklee steeds die eerste posisie ná vier wedstryde.
Die Sanlam Boland Top-12 en verdedigende kampioen, Saldanhabaai, verbeter met elke wedstryd en het ook in Piketberg met die tuisspan afgereken. Piketberg, wat verlede week ‘n 100-tal afgestaan het teen die Burg Boys, het karakter getoon op die Piketberg-sportterrein en goeie teenstand gebied teen Saldanhaai wat die wedstryd met 38-24 gewen het.
Die vierde geplaaste Paternoster het ook sy rieme styf geloop teen ‘n vasberade Velddrif-span wat nie ‘n duim teruggestaan het nie, en die tuisspan hoofbrekens gegee. Velddrif se blitskrag het Paternoster geskud en so ook sy eerste nederlaag van die seisoen toegedien. Die oorwinning van 63-39 het nie net Paternoster na die vierde posisie gerelegeer nie, maar is ook sy grootste loesing tot dusver. Met dié oorwinning skuif Velddrif na die vierde plek en is net drie punte agter die twee voorlopers die, Burg Boys en Saldanhabaai.
Op die Grafkelder in Pella het die besoekers, Saldanha Tigers, Young Hearts opdraand gegee in die eerste helfte. Young Hearts kon eers uit Tigers se greep in die tweede helfte ontsnap om Tigers in die laaste kwartier te tem met 29-20, maar bly steeds in die 6de posisie, terwyl Tigers terugsak na die 8ste plek.
Goedverwacht het sy eerste oorwinning van die seisoen behaal toe hy Steenbergs Cove met 26-17 op laasgenoemde se tuisveld geklop het om sodoende drie plekke, van 12de tot 9de, te spring. Die oorwinning het verseker dat Hopefield terugsak 10de plek toe terwyl Piketberg en Steenbergs Cove onderskeidelik 11de en 12de posisies beklee.
Met die Paasnaweek-onderbreking hervat die spanne weer op 11 April liga- verpligtinge, terwyl die Bug Boys en Saldanhabaai egter deelneem aan die 2026 Saldanhabaai Super 8 Paasnaweek-rugby- kompetisie van 2 tot 6 April in die Transnet Saldanha-rugbystadion.
Grootuitdaagbeker-uitslae – 28 Maart
Weskus
Hopefield 30-46 Vredenburg, Langebaan 27-24 St Helenabaai, Paternoster 39-63 Velddrif, Piketberg 24-38 Saldanhabaai, Steenbergs Cove 17-26 Goedverwacht, Young Hearts 29-20 Saldanha Tigers
Swartland
Darling 25-28 Wesbank, Good Hopes 5-71 Abbotsdale, Moorreesburg 54-15 Riebeeck United, Never Despair 21-23 Mamre, Porterville 33-14 Koringberg.





