Rivaldo Barends van Saldanha Tigers bars deur die verdediging van Langegaan. Die span het 36-21 gewen. Foto: Noluvu Ludidi

Met die voorlaaste Grootuit­daagbeker-stryd van die eerste ronde Saterdag (16 Mei) op hande, en die laaste ronde wedstryde op 23 Mei vir die Weskus- en Swartlandse spanne, stuur die eerste ronde op ‘n kliniese einde af.

Die Burg Boys het ná hul nederlaag verlede week van een punt teen die verdedigende kampioen, Saldanha- baai, na Albatrospark opgeruk en die St. Helenabaai-­Albatrosse in hul negende Grootuitgaagbekerwedstryd aangedurf. Thyrone Williams, vorige breier van die Albatrosse, het geweet dat hulle sterk teenstand te wagte kan wees.

Die wedstryd het beslis gewis bestanddele van uitkloprugby op Albatrospark opgedis. Die Burg Boys is in die eerste 40 minute stadig maar seker ingekatrol en voordat hulle besef het wat om hulle aangaan, het hulle gaan stoom afblaas met ‘n agterstand van 10-24 agter die Albatrosse.

Hulle het egter in die tweede helfte ­terruggeveg en uitstekend gevaar, maar toe die Albatrosse hul net wyer gooi, het die Burg Boys begin spartel.

Met hernude krag van die bank af het die Albatrosse weer beheer oorgeneem en die uitklophou geplant en Williams en sy troepe hul tweede nederlaag van die seisoen met 37-24 toegedien.

Op Velldrif was die gasheer en Saldan­habaai in nog ‘n grofgeskutgeveg betrokke. Nie een van die spanne het hul onder­steuners teleurgestel nie en die skare puik waarde vir hul geld gegee.

Velddrif het die eerste keer hierdie seisoen kragte teen die manne van die baai gemeet en gou besef dat die Blou-en-Rooi-vragskip van Sameul Greyling nie maklik ingesleep kan word nie.

Saldanha het weer eens sy krag in die laaste minu­te ten toon gestel en weer gewys waarom hy die 2025-Sanlam-­Boland-­Top-12-­­­kampioen is toe hy Velddrif naelskraaps met 37-32 verslaan het en steeds onoorwonne is.

Dit is vir elke afrigter belangrik dat jou span by die wedstrydplan hou en dit toepas.

Balbesit, verdediging en dissi­pline maak ‘n groot verskil tussen wen en verloor. Dit is een van Saldanhabaai se kenmerke, wat hom die laaste paar seisoene bo sy teenstanders laat uittroon. Met die oorwinning het die Baai Boys weer eens beklemtoon dat ‘n span wat die minste foute maak, gewis die wenner gaan wees.

Hierdie naweek ontvang hulle besoek van die onvoorspelbare Young Hearts van Pella op die Saldanha-Transnet-stadion in hul 10de wedstryd met die uitgeslape Reuben Abels aan die stuur.

Abels en sy troepe kan hulle gereedmaak vir ‘n strawwe wedstryd teen die 2025-Sanlam-­Boland-Top-12-kampioen. Verlede jaar het die manne van die Grafkelder in die eerste en tweede ontmoetings op die stadion en op Pella se Grafkelder koning gekraai.

Gaan Hearts Sameul Greyling se Blou-en-Rooi Vragskip van koers stuur – iets wat ander spanne nog nie kon regkry nie – of gaan die Baai Boys hul 10de sege in die vertoonlokaal van die Saldanha-­Transnet-stadion met ‘n volmaakte telling van 10 uit 10 vaspyker?

Dit is gewis ‘n afspraak wat onder­steuners nie Saterdag moet misloop nie, want ‘n klipharde Grootuitdaagbeker-stryd gaan sonder twyfel op die Saldanha-Transnet-stadion tussen Saldanhabaai en Young Hearts woed.

Ander uitslae:

Goedverwacht 24-43 Paternoster;

Saldanha Tigers 36-21 Langebaan; en Young Hearts 59-38 Piketberg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article