Die Louwville-gemeenskap en Eden Primêr treur oor die verlies van ­Hilary Lackay (58), ‘n geliefde onderwyser, wie se dood ‘n groot leemte by die skool en onder oudleerders laat.

Lackay was ‘n wiskunde-onderwyser by dié skool en het ‘n groot invloed op baie se lewe gehad – veral met sy diep kennis en passie vir die vak.

Lackay is verlede Dinsdag (12 Mei) oorlede kort nadat hy in Februarie vanjaar ná meer as 30 jaar in die onderwys afgetree het.

Met die tyding van sy dood is talle medelyeboodskappe op sosiale media gedeel.

Een skrywe op die skool se Facebook-­blad lui dat Lackay altyd bereid was om te help met enigiets klein of groot.

“Hy het in al ons Weskus-kinders se lewens ‘n belangrike rol gespeel. Daar waar ek en vele ander gesukkel het met wiskunde, het hy seker gemaak jy verlaat nie sy klas as jy nie die som kon doen of verstaan nie, en dit was die toewyding wat hy as opvoe­der gehad het. Meneer Lackay, jy was een uit ‘n miljoen, regtig, en niemand kan met jou vergelyk word nie.”

Nog ‘n skrywe lui: “Mag jou dierbare, sagte siel in vrede rus, Meneer. Dankie vir goeie lewenslesse. U was voorwaar een in u soort. Ons was so bevoorreg om u as onderwyser te kon hê. Dankie vir al die opofferings vanuit die klaskamer tot op die atletiekveld. Vaarwel, meneer Lackay. U was en sal ‘n legende bly. U het diep spore in ons harte gelos. Baie sterkte aan sy kinders asook sy familie, vriende en die personeel van Eden Primêr.”

Eden Primêr het ‘n mooi gebaar getoon met Lackay se aftrede.

Die familie beskryf Lackay as ‘n geduldige en liefdevolle mens, wat altyd geluister het, iemand met ‘n goeie sin vir humor en wat almal rondom hom gemaklik laat voel het.

“Ons gaan sy teenwoordigheid, lag, raad en sy geduld mis. Die manier waarop hy vir almal om hom omgegee het, hoe hy sy kinders en kleinkinders ondersteun het en hoe hy altyd ‘n liggie in moeilike tye gebring het. Ook sy entoesiasme vir wiskunde en hoe hy die vak interessant en verstaanbaar gemaak het, gaan ons baie mis.”

Met sy aftrede het die skool op hul Facebook-blad gedeel dat generasies leerders onder die leiding van Lackay nie net geleer het om somme op te los nie, maar ook om deur te druk, in hulself te glo en uitdagings met selfvertroue aan te pak, en dat sy bydrae tot die skool en gemeenskap van onskatbare waarde was.

Die familie meen Lackay het ‘n nala­tenskap van liefde, vriendelikheid en geduld agtergelaat.

“Alles wat hy gedoen het, het ander se lewens beter gemaak.

“Sy passie vir wiskunde en sy vermoë om die vak so goed aan ander te leer dat almal daarvan hou, sal altyd onthou word.

“Ons sal hom altyd in ons harte dra.”

Lackay laat sy twee seuns, drie kleinkinders en ‘n groot kring familie en vriende wat hom liefgehad het, agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article