In die fleur van sy lewe, is die lewe van matrikulant Fiano Swiers (19) skielik kortgeknip. Hy was ‘n leerder aan die Hoërskool Louwville in Vredenburg en het groot planne vir sy toekoms gehad.

Die jongman en inwoner van die White City-buurt in Saldanha het glo op Dinsdag 28 April op pad skool toe inmekaar gesak, nadat hy asemhalingsprobleme ervaar het.

Fiano Swiers (19).

Sy broer, Anthony van Rooyen, het met Weslander gedeel dat dit ‘n emosionele tydperk vir die familie is en dat hulle sy dood moeilik vind. Hy meen Swiers het geen gesondheidskwessies gehad nie, wat sy skielike dood onverwags gelaat het.

Hy beskryyf Fiano as ‘n baie liefdevolle mens wat maklik in almal se harte ingekruip het.

“Hy het ’n besondere goeie persoonlikheid gehad en het opreg omgegee vir ander mense. Hy was iemand wat altyd konflik probeer vermy het en eerder vrede gesoek het. Ek gaan Fiano ongelooflik baie mis, in werklikheid mis ek hom reeds. Sy omgee, hoe hy altyd by my ingeloer het, en die band wat ons gehad het, het baie vir my beteken.”

Van Rooyen meen hul gesprekke was spesiaal, en hy het baie by hom geleer. “Dit is veral daardie dinge wat ek die meeste gaan mis.”

Die Hoërskool Louwville het op hul Facebook-blad geskryf dat hulle hul diepste en hartlike meegevoel aan die familie betuig.

“Die afsterwe van julle geliefde Fiano Swiers het ons almal diep geraak, en ons harte is swaar van hartseer. Jou nagedagtenis sal vir ewig in ons harte bly. Alhoewel jou tyd saam met ons heeltemal te kort was, sal die impak wat jy gemaak het nooit vergeet word nie. Ons sal altyd jou glimlag, jou vriendelikheid en die oomblikke wat ons gedeel het, onthou. Te gou weg, maar nooit vergeet nie. Mag jou siel in ewige vrede rus,” het die skool bygevoeg.

Du-Damian Claasste, Swiers se Afrikaanse onderwyser het ook ‘n plasing gemaak en sy innige meegevoel aan die familie en vriende betuig. “Ons as ’n klas gaan jou baie mis. Jou sitplek is leeg, maar ons sal altyd jou herinneringe koester.”

Talle medelye op sosiale media het die impak wat Swiers op mense se lewens gehad het, getoon.

Die begrafnis sal op Saterdag 9 Mei plaasvind. Die huisdiens word by 4 Witstompneusstraat, White City, gehou om 09:00 en die kerkdiens om 10:00 by House of Prayer Global Ministries, White City.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article