Dennis Dietrich, ‘n voormalige onderwyser by drie Weskus-laerskole, is die Nuwe Demokratiese Party (NDP) se burgemeesterskandidaat vir die Saldanhabaai-munisipaliteit vir die komende munisipale verkiesing later vanjaar.
Die NDP het dié aankondiging in ‘n mediaverklaring gedoen en beskryf Dietrich as ‘n waardige, nederige en welsprekende mens met integriteit. “Mnr. Dietrich wil die inwoners van Saldanhabaai op ‘n volhoubare en bestendige wyse dien. Die nakoming van wetgewing en reëls is vir hom van kardinale belang.”
Hy sal ook die NDP se wykskandidaat vir wyk 13 in Vredenburg wees.
Dietrich was ‘n onderwyser by onder meer Eden Primêre Skool in Vredenburg, St. Augustine’s Primêr in Paternoster en St. Andrews Primêr in Saldanha.
Hy was ook onder andere adjunkhoof by Eden en het die skool by die Gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF)verteenwoordig, asook by die Vredenburg-sakekamer, waar hy onder- steuningsnetwerke met sakelui en ondernemings gebou het.
Volgens Marius Liebenberg, die NDP se voorsitter, is die party in 2024 gestig deur ontgogelde DA-kiesers, wat gevoel het partye soos die DA, VF Plus, PA en GOOD het hulle in die rug gesteek deur kiesers se stemme ná die 2024-verkiesing aan die ANC te gee in ruil vir ministersposte in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE). “Die NDP is dus geregistreer om ‘n politieke tuiste aan daardie ontevrede kiesers, wat buite stemming sou bly, te bied.”





