VERKIESING 2026 | Kandidate sit hul planne vir Saldanhabaai uiteen

Nie net 'n kruisie nie | More than just a vote
Nie net ‘n kruisie nie | More than just a vote

VERKIESING 2026 | Kandidate sit hul planne vir Saldanhabaai uiteen


VREDENBURG – Met die plaaslikeregeringsverkiesing op Woensdag 4 November wat nader kom, plaas die burgemeesterskandidate van die Saldanhabaai-munisipaliteit hul prioriteite, planne en beloftes op die tafel.

Van infrastruktuur en dienslewering tot behuising, werkskepping en verantwoordelike finansiële bestuur, verskil die kandidate oor hoe die munisipaliteit se grootste uitdagings aangepak moet word.

Die kandidate het hul planne met Weslander gedeel:

Thyrone Williams.
Thyrone Williams – GOOD.

Thyrone Williams – Good

Williams, die huidige onderburgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit, sê bekostigbare basiese dienste, gelyke dienslewering en plaaslike ekonomiese geleenthede is van die belangrikste kwessies waarop GOOD wil fokus.

Volgens hom sukkel huishoudings met stygende tariewe en ontwrigtings in basiese dienste.

Die party wil billike tariewe bevorder en kwesbare huishoudings beskerm teen die summiere afsny van water en elektrisiteit weens historiese skuld.

Hy sê dienslewering moet in alle gemeenskappe aan dieselfde standaard voldoen, met aandag aan straatbeligting, slaggatherstelwerk, vullisverwydering en nooddiensreaksie.

Werkloosheid en misdaad is verdere uitdagings.

Volgens Williams wil GOOD plaaslike ekonomiese geleenthede bevorder en samewerking tussen munisipale wetstoepassing, die polisie en gemeenskapsveiligheidstrukture versterk.

Hy sê inwoners moet GOOD oorweeg omdat die party mense bo politiek stel en op deursigtige begrotings, fiskale dissipline en die bekamping van korrupsie fokus. “Om aanspreeklikheid te verseker, wil GOOD gereelde gemeenskapsvergaderings, toeganklike klagtekanale en meetbare diensleweringsdoelwitte instel. Projekvordering en diensleweringskedules word deursigtig gemonitor sodat inwoners self kan sien hoe beloftes in konkrete infrastruktuur en betroubare dienste gerealiseer word,” het hy bygevoeg.

Marius Koen.
Marius Koen.

Marius Koen – Demokratiese Alliansie (DA)

Vir Koen, die huidige burgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit, is infrastruktuurontwikkeling, volhoubare dienslewering, behuising en ekonomiese groei die munisipaliteit se belangrikste prioriteite.

Hy stel voor dat 20% van die munisipaliteit se kapitaalbegroting aan infrastruktuur-opgraderings bestee word om die groeiende bevolking se behoeftes te akkommodeer.

Hy wil ook dienslewering verbeter deur ‘n gedesentraliseerde dorpsbestuursmodel in te stel, en groter klem op dienspersele en GAP-behuising te plaas. “Dit is maklik om te belowe en verwagtinge by inwoners te skep, maar om daardie beloftes na te kom, is ’n ander storie,” sê hy.

Ekonomiese groei moet volgens Koen ‘n kernprioriteit wees, met beleide en aansporings wat investering aanmoedig, werkloosheid help bekamp en nuwe geleenthede skep.

Hy verwys na die DA se bestuur van die munisipaliteit sedert 2011 en die munisipaliteit se erkenning as Suid-Afrika se tweede beste munisipaliteit vir finansiële bestuur in 2026.

Koen sê prestasie-ooreenkomste sal met DA-raadslede in uitvoerende poste opgestel word om aanspreeklikheid te verseker.

Sophia Smith.
Sophia Smith.

Sophia Smith – People’s Movement for Change (PMC)

Smith sê die PMC wil gesinsbande herstel, geweld en misdaad in gemeenskappe bekamp en werkloosheid as een van die munisipaliteit se belangrikste uitdagings aanspreek.

Die party fokus op drie kerngebiede: gesinne, gemeenskappe en geleenthede.

Volgens Smith is die voorkoming van geslagsgebaseerde geweld noodsaaklik om sterker gemeenskappe te bou.

Sy meen geweld en misdaad moet dringend aandag geniet, terwyl werkloosheid aangespreek moet word omdat dit tot ander maatskaplike probleme kan bydra.

Sy sê dié uitdagings kan slegs deur die aktiewe betrokkenheid van gemeenskappe opgelos word.

Die PMC neem vir die eerste keer aan die plaaslike regeringsverkiesing in die Saldanhabaai-munisipaliteit deel.

Smith sê die party wil inwoners weer deel maak van besluitneming en glo dat gemeenskappe self ’n belangrike rol in die ontwikkeling van oplossings moet speel.

“PMC maak net een belofte en dit is om na ons gemeenskappe te luister en te dien. Die PMC-raadslede sal binne hul eerste 100 dae in die raad elke wyk besoek om inwoners se uitdagings aan te hoor en saam met hulle ‘n aksieplan op te stel. Daarna sal raadslede minstens elke ses maande terugvoer oor vordering gee en planne waar nodig hersien.”

Dennis Dietrich.
Dennis Dietrich.

Dennis Dietrich – Nuwe Demokratiese Party (NDP)

Dietrich sê die NDP wil die agteruitgang van infrastruktuur, vuil dorpe, die verkwisting van belastinggeld en werkloosheid in die Saldanhabaai-munisipaliteit aanspreek.

Hy sê deurlopende instandhouding van paaie, sypaadjies, stormwaterstelsels, watertoevoer en elektrisiteitsvoorsiening moet in elke straat plaasvind om skoon dorpe en goeie infrastruktuur te verseker.

Dietrich meen inwoners word deur voortdurende tariefverhogings en heffings finansieel belas.

Die NDP wil volgens hom onnodige munisipale uitgawes uitskakel en besparings gebruik om inwoners se finansiële las te verlig.

Oor werkskepping sê hy munisipaliteite moet ’n gunstige klimaat vir private investering skep deur veilige, skoon dorpe, bekostigbare tariewe en betroubare basiese dienste te verseker.

Hy verwys ook na die party se bande met plaaslike sakekamers en sy fokus op sakelui en professionele persone as kandidate.

Dietrich sê die NDP stel dienslewering bo politiek en sal nie koalisies met ander partye vorm nie.

Die party maak volgens hom geen beloftes wat hy nie in ‘n posisie is om na te kom nie.

Hy sê NDP-wyksraadslede sal gereeld hul wyke besoek, probleme aanmeld en opvolg werk doen. Raadslede wat nie aan die party se standaarde voldoen nie, kan verwyder word.

“Wanneer dit kom by die gemeenskap en dienslewering, vat die NDP geen nonsens nie,” sê Dietrich.

Anton Jansen.

Anton Jansen.

Anton Jansen – Vryheidsfront Plus (VF Plus)

Jansen sê betroubare basiese dienste, doeltreffende munisipale administrasie en plaaslike ekonomiese ontwikkeling is van die belangrikste uitdagings in die Saldanhabaai-munisipaliteit.

Vir hom is dit noodsaaklik om die instandhouding van water- en rioolstelsels, paaie, stormwaterstelsels, straatbeligting en vullisverwydering vir inwoners se lewensgehalte te verbeter.

Hy beklemtoon ook verantwoordelike besteding van belastingbetalers se geld.

Volgens Jansen kan administratiewe vertragings, soos die verwerking van bouplanne en die hantering van navrae, bouprojekte, investering en werkskepping benadeel.

Die VF Plus wil deur toesig, opvolging en samewerking met die munisipale administrasie help om dié knelpunte aan te spreek.

Behuising, veiligheid en ‘n gunstige omgewing vir plaaslike ondernemings is verdere prioriteite.Jansen sê inwoners behoort die VF Plus te oorweeg omdat die party op praktiese dienslewering, verantwoordelike bestuur en gemeenskapsbelange fokus.

Hy sê raadslede moet toeganklik bly, klagtes opvolg en inwoners gereeld oor vordering inlig.

Hoewel raadslede nie elke probleem self kan oplos nie, moet hulle probleme na die betrokke departemente verwys en op antwoorde aandring.

“Wat inwoners wel op kan staatmaak, is ‘n raadslid wat luister, optree, opvolg en terugvoer gee, ook wanneer ’n probleem ingewikkeld is of langer neem om op te los,” voeg hy by.

Peter Plaatjies.
Peter Plaatjies.

Peter Plaatjies – Stopp Party

Vir Plaatjies is dienslewering, werkloosheid en behuisingsagterstande een van die grootste uitdagings in die Saldanhabaai-munisipaliteit.

“Ons wil binne die eerste 100 dae ‘n infrastruktuur- en diensleweringsoudit laat doen om probleme te identifiseer en ’n openbare herstelplan met duidelike prioriteite, verantwoordelike amptenare, begrotings en sperdatums op te stel.”

Hy sê STOPP wil plaaslike ekonomiese ontwikkeling bevorder deur vaardigheidsontwikkeling, kleinsakeondernemings en jeugontwikkeling te ondersteun. Die party wil ook met sektore soos vissery, toerisme, landbou, mynbou, energie, die hawe en nywerhede saamwerk om investering en werkskepping aan te moedig.

Wat behuising betref, wil sê Plaatjies hulle wil saam met die Wes-Kaapse regering en ander instellings werk om bestaande projekte te versnel en selfbou- en behuisingsgeleenthede te bevorder.

Plaatjies sê die party wil hom van ander onderskei deur meetbare dienslewering en openbare aanspreeklikheid. STOPP beoog kwartaallikse openbare terugvoervergaderings, prestasieverslae en ’n openbare 100-dae-aksieplan. Raadslede sal ook toeganklik moet wees en klagtes opvolg.

“Ons wil nie bloot ’n verkiesing wen nie. Ons wil die manier waarop plaaslike regering funksioneer verander van politieke beloftes na sigbare resultate,” sê Plaatjies .

  • Die Patriotic Alliance (PA) het nie op Weslander se versoeke gereageer om ook aan die gesprek deel te neem nie.

LEES OOK: Dienslewering en werkskepping voorop by verkiesingskandidate in Bergrivier.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 29 October 2026
    Weslander E-Edition – 29 October 2026

Gift this article