PIKETBERG – Dienslewering, werkskepping, behuising en verantwoordbare bestuur is van die prioriteite wat drie burgemeesterskandidate vir die Bergrivier-munisipaliteit (BM) voor die verkiesing op Woensdag 4 November uitgelig het.
Lance de Bruin van die People’s Movement for Change (PMC), Mario Wessels van die Demokratiese Alliansie (DA) en Jonathan Ruiters van die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het hul planne as burgemeesterskandidate uiteengesit om inwoners se behoeftes aan te spreek.
De Bruin sê werkloosheid, doeltreffende dienslewering en gemeenskapsontwikkeling is die PMC se grootste prioriteite.
Die party wil ekonomiese geleenthede bevorder, probleme met munisipale dienste opvolg en inwoners meer by besluitneming betrek.
“Ons glo dat inwoners nie net beloftes nodig het nie, maar praktiese oplossings wat hul daaglikse lewens verbeter,” sê De Bruin.

Wessels, die BM se huidige onderburgemeester, sê die DA se fokus sal op infrastruktuurontwikkeling, ekonomiese groei en veiligheid wees.
Hy wil paaie, water en sanitasienetwerke, elektrisiteitsvoorsiening en openbare geriewe onderhou en waar nodig opgradeer. Hy wil ook met die provinsiale en nasionale regerings saamwerk om behuisingsgeleenthede te bevorder.
Volgens Wessels kan landbou, toerisme en kleinsakeontwikkeling ‘n belangrike rol in werkskepping speel. Samewerking met die polisie, buurtwagte en gemeenskapsorganisasies sal ook veiligheid bevorder.
Wessels verwys ook na Bergrivier se tien opeenvolgende skoon oudits vir die 2024/2025-boekjaar as bewys van goeie bestuur en finansiële dissipline.

Volgens Ruiters is basiese dienste, munisipale rekeninge en behuising die grootste uitdagings waarop die VF Plus wil fokus.
Hy beklemtoon skoon water, werkende rioolstelsels, goed onderhoude paaie en gereelde vullisverwydering.
“Munisipale rekeninge moet korrek wees en behoeftige inwoners moet billike betalingsreëlings kan tref. Die party wil ook plaaslike ondernemings help groei deur aansoeke vinniger af te handel en onnodige struikelblokke uit die weg te ruim,” voeg hy by.

Aanspreeklikheid
Al drie kandidate sê raadslede moet ná die verkiesing aanspreeklik bly teenoor inwoners.
De Bruin wil gereelde terugvoer oor klagtes en probleme hê.
Wessels bepleit gemeenskapsvergaderings, aktiewe wykskomitees en duidelike teikens vir projekte.
Ruiters sê elke projek moet ‘n sperdatum en ‘n verantwoordelike persoon hê, met terugvoer wanneer werk agter raak.
Die kandidate beklemtoon dat inwoners se behoeftes nie net tydens verkiesings gehoor moet word nie, maar ook daarna deur sigbare optrede aangespreek moet word.



You must be logged in to post a comment.