VELDDRIF – Die jaarlikse Visfabrieketoernooi is in volle swang op die Smit-sportterrein, waar spanne mekaar van Vrydag 30 Oktober tot Saterdag 31 Oktober in sokker, netbal en rugby die stryd sal aansê.
Die toernooi bring jaarliks visfabriekwerkers, sportspanne en ondersteuners van reg oor die Wes-Kaap bymekaar vir ‘n dag van mededingende sport en saamkuier.
Bennie van Rooi, die President van die Boland-rugbyunie, die toernooi amptelik geopen het. Dit is ook bygewoon deur Ray van Rooy, die uitvoerende burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit.

Volgens Van Rooi is die Visfabrieketoernooi belangrik vir rugbyontwikkeling en bevorder en kweek dit samehorigheid in die werkplek. “Die toernooi beteken baie vir Boland. Ons wil graag die toernooikonsep uitbrei na ander Boland-streke om ook ander fabrieke in onder meer die appelbedryf, wynboere en selfs die veebedryf in te sluit en aan te moedig om soortgelyke toernooie as die Visfabrieke te hou.”
Die toernooi se hoofdis, die bekerfinaal in die rugbyafdeling, sal Saterdag 31 Oktober net voor sesuur (17:55) gespeel word, waarna die oorhandiging van bekers aan die onderskeie toernooiwenners om half sewe (18:30) plaasvind.
Dekades van sportsmangees by toernooi
Die Visfabrieketoernooi het aanvanklik met net 16 rugbyspanne in Oktober 1990 begin. Sea Harvest, onder leiding van Johan Daniëls, het die eerste toernooi gewen en die titel die daaropvolgende drie jaar behou.
Netbal en sokker het ‘n paar jaar later by die program aangesluit. Boland Rugby het in 1997 oor die rugbyafdeling beheer oorgeneem.
Die toernooi het sedertdien ‘n belangrike plek op die Weskus se sportkalender ingeneem.
Spanne van verskillende visfabrieke kry die geleentheid om hul vaardighede te toets, terwyl spelers ook vir hul talent raakgesien kan word. Verlede jaar se toernooi het sowat 5 000 mense na Velddrif gelok. Die organiseerders het ná afloop daarvan goeie sportmangees en dissipline onder deelnemers en toeskouers uitgesonder.
Blaai gerus deur die fotoalbum deur Danie Hefers:
Die netbalafdeling het in 2025 ook ‘n gemengde afdeling vir mans en vroue as proeflopie aangebied. Volgens Marieta Coetzee, die Suid-Afrikaanse Visfabrieke se netbalverteenwoordiger, het dié afdeling heelwat belangstelling gelok en sou dit weer oorweeg word.
Die rugbyafdeling bly eweneens ‘n groot trekpleister. Verlede jaar het 14 spanne deelgeneem, met Coastal Links as die uiteindelike wenner, Amawandle as naaswenner en die West Point Processors in die derde plek.

Die Visfabrieketoernooi bied dus weer aan spelers en ondersteuners die geleentheid om die sporttalent binne die visbedryf te vier en bande tussen verskillende werkplekke en gemeenskappe te versterk.
Vanjaar se sokkerafdeling het reeds ‘n hupstoot gekry met ‘n borgskap van R80 000 van Nampak Metals. Die borgskap is in September aan die organiseerders van die toernooi oorhandig.
Regan Adams, die organiseerder, het sy waardering vir Nampak Metals se volgehoue ondersteuning uitgespreek. Die bydrae sal help om die sokkerafdeling van dié jaarlikse sportgeleentheid moontlik te maak.
Meer besonderhede oor vanjaar se deelnemende spanne en wedstryde sal aanlyn, op weslander.co.za, bekendgemaak word.
LEES OOK: Oud-rugbykaptein onthou eerste toernooi













You must be logged in to post a comment.