Die Vredenburg-Saldanha-krieketklub en die Victoriane-krieketklub het mekaar die afgelope Saterdag (28 Maart) in ‘n laaste Boland Primierligawedstryd op Krewepark gepak.
Hoewel die Krewe hierdie seisoen nie goed gevaar het nie, bly hulle steeds ‘n faktor in Boland-krieket, wat jaarliks spelers vir die Boland- provinsiale krieket-elftal oplewer.
Die Victoriane se boulers het hul vernuf van die eerste bal af getoon deur Vredenburg-Saldanha onder met goeie boulvernuf druk te plaas.
Die Krewe het eerste gekolf en kon ongelukkig net 108 lopies aanteken voordat almal uitgeboul is.
Devon Smith het die meeste weerstand gebied met ‘n kaptein-vegtersbeurt van 29 lopies (38 balle), terwyl Cecil Jooste 21 van 49 balle bygedra het. Die res van die span het egter teen ‘n skerp Victoriane-aanval gesukkel. Christiaan Wege het goed met die bal gevaar en die Krewe se kolwers met sy 4/18 in 7.2 boulbeurte vasgepen, terwyl Zack Micklewright die druk verder verhoog het en die Krewe se middelorde met sy 2/10 in vyf boulbeurte laat val het.
Die Victoriane het die teiken van 109 lopies met selfvertroue begin en dit ná net 23.3 boulbeurte verbygesteek met hul telling op 110/5.
Max Robertson het die Victoriane se beurt met ‘n onoorwonne 40 lopies van 61 balle geanker, wat vyf grenshoue ingesluit het. Sy vennootskap met Mitchell Welch was deurslaggewend en het die tempo van die wedstryd met ‘n vinnige 34 van 32 balle, wat vier viere en twee sesse ingesluit het, verhoog.
Hoewel Riaan Smit vir die Krewe goed gevaar het deur 2/20 in ses boulbeurte te laat kantel, kon hy nie keer dat die Victoriane die oorwinning losspeel nie.
Die Victoriane het die seisoen met dié oorwining op ‘n hoë noot afgesluit toe hulle die Krewe op Krewepark met vyf paaltjies geklop het.
Vir die Krewe was dit ‘n seisoenafsluiting wat gemengde emosies gebring het – teleurstelling oor die nederlaag, maar hulle kan ook trots wees op hul vertonings deur die seisoen en die jong kriekettalent wat na vore gekom het, dui aan dat die Krewe in 2026-’27 baie beter sal vaar as in 2025-’26.




