Om met ses vingers aan elke hand gebore te word, is nie so seldsaam soos wat baie mense dalk dink nie.
Dr. Steve Carter, ‘n ortopediese chirurg, sê “polidaktilie”, die mediese term vir ekstra vingers of tone, kom relatief gereeld in Suid-Afrika voor.
Polidaktilie word gekenmerk deur die ontwikkeling van een of meer ekstra vingers of tone tydens geboorte. Volgens Carter word die toestand by ongeveer een uit elke 500 geboortes in Suid-Afrika aangetref.
Die toestand is dikwels oorerflik – veral aan die moeder se kant van die familie – hoewel dit in seldsame gevalle met ander genetiese afwykings verbind kan word.
Drie hoofvorme van polidaktilie bestaan: ‘n ekstra vinger aan die kant van die pinkie, die ontwikkeling van ‘n ekstra middel- of wysvinger, of duimduplisering.
Die voorkoms van ekstra pinkies, oftewel postaksiale polidaktilie, is volgens beskikbare mediese data meer algemeen onder swart babas en bevolkings van Afrika-afkoms.
Hoewel polidaktilie soms hoofsaaklik ‘n kosmetiese kwessie is, kan dit in sommige gevalle die gebruik en doeltreffendheid van die hand beïnvloed. Chirurgie kan dan nodig wees om die voorkoms en werking van die hand te verbeter.
Carter sê ‘n ekstra vinger wat slegs uit ‘n klein sagte knop bestaan, kan deur middel van ‘n eenvoudige chirurgiese prosedure verwyder word. Die dagprosedure behels ‘n klein elliptiese insnyding en neem ongeveer 15 minute.
Volgens Carter word chirurgie vir polidaktilie gewoonlik op ongeveer eenjarige ouderdom gedoen. Dit gee daardie kinders volgens hom ‘n beter kans om by die gerekonstrueerde vingers aan te pas.
Wêreldwyd word beraam dat ongeveer een uit elke 500 tot 1 000 babas met ekstra vingers of tone gebore word.



