Die leiers van verskillende organisasies en politieke partye het die borgtogaansoek van die die verdagte bygewoon en gevra dat borgtog geweier moet word.

G’n borg man wat glo 11-jarige verkrag en swanger maak

Die leiers van verskillende organisasies en politieke partye het die borgtogaansoek van die die verdagte bygewoon en gevra dat borgtog geweier moet word.

ATLANTIS – Die man wat na bewering sy meisie se minder­jarige kind swanger gemaak het, se borgtogaansoek is verlede week in die Atlantis-landdroshof geweier.

Die hof het tydens die borgtogverrigtinge gehoor die ondersoek is steeds aan die gang en verskeie belangrike stukke bewysmateriaal is nog uitstaande.

Volgens getuienis is die aanvanklike ondersoekbeampte van die saak met ‘n meer ervare ondersoekbeampte vervang. Dié ondersoekbeampte is onder meer uitgevra oor misdaadtoneelfoto’s, uitstaande DNS-resultate en ‘n finale verslag van die maatskaplike werker.

Die hof het gehoor dat slegs ‘n tussentydse maatskaplike verslag tans beskikbaar is. Die kind moet na bewering nog ‘n finale sessie met die maatskaplike werkers hê voordat die proses afgehandel kan word, het hy getuig.

Die moeder is intussen op borgtog van R2 000 vrygelaat en haar kontak met die kind is onder toesig van die hof.

Peter Stoffberg, ‘n gemeenskapsaktivis, is deur die verdediging geroep om oor sy betrokkenheid vanuit die gemeenskap te getuig, asook oor ‘n petisie wat aan die hof voorgelê is waarin beswaar teen die vader se borgtog gemaak is.

Stoffberg is gevra waarom hy die beskuldigde se borgtog teengestaan het, maar nie in ‘n vorige saak die moeder se borgtog op dieselfde wyse benader het nie.

Hy het aan die hof verduidelik dat hy die twee sake verskillend beskou omdat die beweerde swangerskap ‘n manlike persoon impliseer. Hy het verder gesê die moeder sal oor haar eie rol rekenskap moet gee indien dit bewys word dat sy van die beweerde misbruik geweet het en dit nie aangemeld het nie.

Bewerings oor swanger kind lank vóór inhegtenisneming

Die hof het ook gehoor van bewerings en gerugte wat reeds teen einde 2025 in die gemeenskap versprei het oor ‘n jong meisie wat moontlik swanger was. Volgens Stoffberg kon dié bewerings aanvanklik nie bevestig word nie en geen amptelike saak is destyds aangemeld nie.

Stoffberg het getuig dat hy later, as deel van sy gemeenskapswerk, die kwessie onder die publiek begin opper het. Hy het gesê hy het navrae by die polisie en ‘n hospitaal gedoen, maar is aanvanklik meegedeel dat geen sodanige saak aangemeld is nie.

Volgens die getuienis is die baba op 15 Mei vanjaar gebore nadat maat­skaplike werkers die saak na die polisie verwys het.

Die hof het ook gehoor van ‘n bewering dat die baba met ses vingers gebore is en dat die beweerde vader glo dieselfde eienskap het. Die ondersoeker het volgens getuienis gesê hy was nie hiervan bewus nie en het nie direkte kontak met die kind gehad nie.

Die mediese term vir die toestand om met ekstra vingers of tone gebore te word, staan bekend as polidaktilie.

Stoffberg het verder getuig dat hy die familie deur middel van ‘n sosialemediaplasing aangemoedig om met die waarheid vorendag te kom.

Inligting het daarna na vore gekom, wat daarop gedui het die beskuldigde moontlik op die vlug kan slaan.

Daarna is die polisie volgens die getuienis na die verdagte se ligging in Witsand vergesel, en ‘n J50-lasbrief vir die verdagte se inhegtenisneming uitgereik.

Die hof het uiteindelik die beskuldigde se borgtog geweier nadat die staat se saak en die risiko vir die gemeenskap oorweeg is.

Die saak is tot Vrydag 27 November uitgestel.

Die man bly in aanhouding tot dan.

LEES OOK: Ma van elfjarige tienerma in hof oor versuim om misbruik aan te meld

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition -29 September 2026
    WeskusNuus E-Edition -29 September 2026

Gift this article