Misdaad | Crime
Misdaad | Crime

Vonke spat tydens ma van tienerma se borgtogaansoek


Die verdediging en die staat het tydens hul finale argumente in die borgtogaansoek van die 29-jarige ma van ‘n 11-jarige meisie behoorlik na mekaar gehap nadat die Atlantis-landdroshof ook getuienis van ‘n maatskaplike werker aangehoor het.

Die ma verskyn op ‘n klag dat sy geweier het om die misdaad te rapporteer nadat haar 11-jarige dogter onlangs geboorte aan ‘n babaseun geskenk het.

Verskillende politieke partye en gemeenskapsorganisasies wat ’n petisie ingehandig het dat die ma nie moet borg kry nie, het gereeld die hofsaak bygewoon. Foto: Murphy Roberts.
Verskillende politieke partye en gemeenskapsorganisasies wat ’n petisie ingehandig het dat die ma nie moet borg kry nie, het gereeld die hofsaak bygewoon. Foto: Murphy Roberts.

Die maatskaplike werker het getuig dat sy op 15 April die betrokke adres besoek het nadat maatskaplike dienste ‘n oproep van die hospitaal ontvang het dat ‘n 11-jarige meisie besig was om te kraam.

Volgens haar wou die familie aanvanklik nie toelaat dat hulle die slagoffer sien nie, wat spanning veroorsaak het. “Ons het egter wel later ‘n gesprek met die slagoffer gehad, maar sy wou glad nie met ons praat nie en het net heeltyd haar kop geskud,” het sy aan die hof verduidelik.

Wat vir haar uitgestaan het, was dat die meisie voortdurend na haar ouma gekyk het en baie gespanne voorgekom het. Die ouma het volgens haar getuienis volgehou dat niks verkeerd is nie en dat sy mooi na haar kleinkind omsien.

‘n Spesialis-kinderregte-maatskaplike werker het later aanbeveel dat die meisie onmiddellik uit die familie se sorg verwyder word. “Ek het geweet dit gaan nie maklik wees nie, maar was steeds vasberade om dit te doen,” het die maatskaplike werker getuig.

Sy het vertel dat die polisie versterkings moes inroep nadat dreigemente gemaak is toe hulle die kind wou verwyder. Volgens haar het die ma ook, ondanks verskeie versoeke, nooit met die maatskaplike werkers kontak gemaak nie. “Ek het hard probeer om met die familie te praat, maar dit het net moeiliker en moeiliker geword, veral nadat die 11-jarige ook saam begin skel het,” het sy gesê.

Die situasie het volgens haar verbeter nadat die ma se suster die familie oortuig het om saam te werk. Die meisie is daarna na ‘n Kaapse hospitaal geneem, waar haar toestand versleg het nadat haar bloeddruk skerp gestyg het. “Ons het haar besoek en sy was baie bly om ons te sien, maar het weer in haar dop gekruip toe haar ma ook opdaag,” het die maatskaplike werker getuig.

Sy het haar getuienis afgesluit deur te sê die 11-jarige het later een van die verpleegsters in haar vertroue geneem en vertel wie haar swanger gemaak het.

Die verdediging het geen vrae aan die maatskaplike werker gestel nie.

Tydens die finale argumente het die verdediging aangevoer dat die staat nie werklike ondersteuning uit die gemeenskap geniet nie. Volgens die regshulpprokureur het die staat verskeie briewe van kinderregte-organisasies en petisies aan die hof voorgelê, maar nie een van die betrokke organisasies het ooit die hofverrigtinge bygewoon nie.

Volgens haar het politieke partye en ander rolspelers bloot die saak gebruik om publisiteit te kry. “Indien hulle werklik die slagoffer se belang eerste gestel het, sou hulle in die hof gesit het. Hulle het eerder verkies om buite vir die media te poseer,” het sy gesê.

Sy het verder daarop gewys dat die familie se ondersteuners die galery by verskeie hofverskynings gevul het om die ma te ondersteun.

Die staat het egter in sy slotbetoog aangevoer dat die verdediging probeer om die hof se aandag van die werklikheid af weg te lei en ‘n rookskerm op te trek. Volgens die staat het die familie die verdagte probeer beskerm en sal die getuienis dit bewys.

Verskeie raadslede, politieke partye en gemeenskapsleiers het egter tydens die verdagte se vorige borgverskynings buite die hof teen haar vrylating op borgtog betoog.

Die saak is tot Vrydag 12 Junie uitgestel vir uitspraak in die borgtogaansoek.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 12 May 2026
    WeskusNuus E-Edition – 12 May 2026

Gift this article